Die karakter Tim, oënskynlik een van die kalm karakters, het Bridgette byna aangerand. Toe kies hy die tafel en tref dit met soveel geweld dat die bloed loop.

vuis

Marco Spaumer, wat die rol van Tim vertolk, en Denise Newman (Bridgette October) vertel hoe hulle vir die emosionele toneel voorberei het.

Wat het Marco gedink toe hy die draaiboek lees en uitvind wat hy moet doen?

Ek was opgewonde. Eindelik kon my karakter (Tim) vir homself opstaan en homself verdedig. Ek sal in die werklike lewe nooit so iets doen nie.

Hoe het jy en Denise julle op die toneel voorberei?

Sy het my gehelp en gereeld gerusgestel om myself net in die oomblik te gooi. Om die uitbarsting nie vooruit te loop nie, maar elke emosie te vertrou. Ons moes dit ’n hele paar keer repeteer om veilig by mekaar te voel.

denise en marco

Hoe was dit om jouself oor daardie punt te dryf en Tim se uitbarsting so werklik as moontlik uit te beeld?

Dit was ’n uitdaging -- ek het my vuis amper flenters op daardie houttafel geslaan. Ek was só in die oomblik, en die adrenalien het gepomp, dat ek nie besef het my hand bloei nie. Maar geen ernstige beserings is opgedoen tydens verfilming nie.

marco

Denise se kommentaar:

“Bridgette October het nog nooit ooghare vir Tim gehad nie en dink hy is nie goed genoeg vir haar dogter, Nicole, nie. Sy het Tim nog nooit die voordeel van die twyfel gegee nie.

“Sy het geweet as sy Tim ver genoeg tart, en veral iets snedigs oor sy ma kwytraak, gaan sy sy donker kant wakker maak.

denise

“Dit was Bridgette se bedoeling om Tim te ontstel en sy het dit reggekry. Sy verlekker haar daarin en die gevolge van sy uitbarsting is verreikend.

“Maar die vraag is of Bridgette hiermee gaan wegkom en daarvoor moet kykers die volgende paar episodes van Suidooster kyk.”

Woede is ’n natuurlike uiting van emosie, maar wanneer dit buite beheer raak, kan dit ernstige implikasies inhou. Soos wanneer jy jouself of iemand anders daardeur skade berokken. Die geheim van woedebeheer is om te verstaan hoekom jy so ongelooflik kwaad is sodat jy dit wel kan beheer.

Daar’s altyd iemand wat die “verkeerde knoppies” sal druk – soos Bridgette met Tim gedoen het deur sy ma sleg te maak. Gelukkig het Tim betyds tot sy sinne gekom en die tafel (en sy vuis) het die prys betaal.

Maar hoe gemaak as die woede in jou oorkook?

Mense skuil dikwels agter ’n paar wolhaarstories wanneer hulle ’n woedeuitbarsting ervaar.

Wie het nog nie dié een gehoor nie: “Ek kon myself nie keer nie. Woede is nie iets wat jy kan beheer nie.”

Wel, jy kan nie noodwendig die situasie of jou gevoelens beheer nie, maar wat jy wel kan beheer, is hoe jy jou woede uitdruk. Jy het altyd die keuse om te besluit hoe jy gaan reageer.

Ander regverdig hul woedebuie en -uitbarstings as die enigste manier waarop hulle regkry wat hulle wil hê, selfs respek.

Jammer, maar boelies verdien nie respek nie. Mense kan dalk bang wees vir jou, maar hoe geloofbaar is jy werklik as jy self nie jou eie emosies kan beheer nie?

Dan is daar ook: “Dis gesond om van my woede ontslae te raak.”

’n Tikkie waarheid skuil wel daarin dat dit gesonder is om nie emosies op te krop nie. Maar woede en onbeheerste tirades is net meer vet op jou woedevuur.

Tien woedebeheerwenke wat jou kan help.

  1. Dink voor jy praat. Woorde wat geuiter is, kan nie teruggetrek word nie.
  2. Wag tot jy kalm voel voor jy jou emosie duidelik en reguit deel, sonder om ander seer te maak of te beheer.
  3. Maak spore as jy woede voel opstu – gaan vir ’n vinnige stap of hardloopsessie.
  4. Wees genadig met jouself. Dis nie net kinders wat ’n blaaskans deur die dag nodig het nie.
  5. Fokus eerder op oplossings vir dit wat jou kwaad maak en herinner jou daaraan dat woede nog nooit iets reggemaak het nie. Inteendeel, die kans is goed dat dit sake net kan vererger.
  6. Wees spesifiek wanneer jy met ’n probleem te doen kry. Dis jy wat die probleem het, want dis jy wat kwaad word. Wie het nie al hierdie argument gehoor, of selfs gebruik nie: “Jy doen nooit enige werk in die huis nie.” Dit moet eintlik wees: “Ek is kwaad omdat jy van die tafel af opgestaan het sonder om aan te bied om skottelgoed te was.”
  7. Vergifnis is ’n kragtige instrument wat positiewe gevoelens na vore laat kom. Hou in gedagte dat dit feitlik onmoontlik is om te verwag dat almal rondom jou gaan optree soos jy van hulle verwag.
  8. Lag ’n slag. Sarkasme kan seermaak en dinge vererger, maar humor kan die meeste situasies ontlont.
  9. Oefen om te ontspan deur diep asemhalingsoefeninge, musiek en jouself gereeld kalmeer met ’n kort sinnetjie waarmee jy jouself aanmaan om dinge rustiger te vat.
  10. As woede jou baas raak en bly, is dit tyd om hulp te soek. Woedebeheerterapie kan wondere verrig en verhoed dat jy mense na aan jou seermaak.

Bronne: helpguide.org, mayoclinic.org

Lees ook op Huisgenoot.com:

Nóg ’n terugslag tref Bill Cosby tydens sy seksverhoor

5 van die koelste eksperimente wat tans op die Internasionale Ruimtestasie uitgevoer word

Kamera, ligte en aksie! Ons HG-fliek is in wording

Skoknuus in ondersoek na gedoemde EgyptAir-vlug bekend gemaak

O koek! Die ‘reëndruppelkoek’ met sy byna geen kilojoules neem die internet op horings