WANNEER iets nie bestem was om te wees nie,kan niks dit beredder nie.

Niks wat jy doen, sal die krake in jou huwelik herstel as die fondamente nie reg gelê is nie.

En niks is dan moeiliker as om aan jouself te erken dis verby, vrede te maak en uit die stukke van jou lewe iets nuuts te probeer bou nie.

Franscilla Escórcio (33) weet al hierdie dinge. Die aantreklike blondekop was vyf jaar lank getroud met een van ons land se mees geliefde minnesangers, Manuel Escórcio (60), maar nou kan sy skaars glo hoe lelik en hartseer alles geword het tussen haar en die man vir wie sy eens alles sou opoffer.

Hy het haar in Mei gedagvaar vir ’n egskeiding, en middel Augustus het hy uit hul huis getrek.

Maar sy het altyd bly hoop, en selfs verlede maand nog gevra of hulle nie ’n laaste keer kan probeer nie, vertel die tandartsassistent.

Maar Manuel het gesê dis verby – en eers toe ’n wildvreemde vrou haar bel om te vra of sy weet watter soort boodskappe haar man op die sosiale netwerk Facebook aan ander vroue stuur, het Franscilla besef presies hóé verby dit vir Manuel is.

Franscilla het self sy Facebook- profiel vir hom opgestel en het gou gaan loer wat die man met wie sy steeds getroud is, alles daar kwytraak.

Dit was ’n skok. Daar was ’n rits suggestiewe boodskappe, baie klaarblyklik gerig aan vroue wat hy nie geken het nie. Is jy stout? wou hy soms weet. Dan het hy die vroue genooi om stout te wees saam met hom.

Maar die ergste moes nog kom. Franscilla en Manuel het rusie gemaak oor die Facebookgesprekke

en toe klap hy die skraal vrou met ’n plathand deur die gesig. So hard dat sy met grimering die merk moes wegsteek en ’n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak het.

“Ek was so geskok,” vertel sy. “Ek het geweet ek moet niks sê nie, want ek kon sien hy is briesend. Ek was bang. Ek kon nie glo hy het so beheer verloor nie.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 14 Oktober 2010.