Dit het tydens Maandag se hofverrigtinge in die klagstaat aan die lig gekom dat Cheslin en Hannah in Cheslin se blou Citi Golf was en nie in haar ouma se voertuig soos wat aanvanklik berig is nie. Die voorval het skokgolwe deur die studentedorp gestuur.

Cheslin het glo Saterdagoggend by mense in Kraaifontein aangeklop vir hulp nadat hy glo erg aangerand is deur die kapers.

Hannah en Cheslin het Saterdagoggend glo tussen 03:00 en 06:00 voor ’n woonstelblok in Birdstraat, Stellenbosch, in ’n blou Golf gesit en gesels, toe hulle gekaap is.


“’n Derde verdagte is Sondag in hegtenis geneem,” het sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, aan News24 gesê.


Twee ander is Saterdag in hegtenis geneem ná ’n dramatiese gejaag in beeldmateriaal wat News24 verkry het, wat wys hoe ’n blou-en-wit Golf deur ’n hek bars en later in ’n veld agtergelaat word met ’n groep mans wat daarvan weghardloop.


Rwexana het gesê die drie verdagtes sal Maandagmiddag in die Stellenbosse landdroshof verskyn op voorlopige aanklagte van motorkaping terwyl die ondersoek nog aan die gang is.