’n Plaaslike akteur wat in Noem My Skollie verskyn het, is buite ’n kuierplek in Kaapstad rondgepluk en aangerand omdat bendelede glo ontsteld is oor die bekroonde plaaslike fliek.

[caption id="attachment_150117" align="aligncenter" width="600"]David Manuel soos hy in die fliek as Gums verskyn. Foto: Noem My Skollie-Facebook. David Manuel soos hy in die fliek as Gums verskyn.
Foto: Noem My Skollie-Facebookblad[/caption]

’n Video van die voorval, wat buite Mzoli’s in Guguletu geneem is, wys hoe David Manuel homself probeer verdedig. David het die rol van die bendeleier Gums vertolk en was al meer as een keer in Pollsmoor, die tronk waar die film afspeel.

Die video is al meer as 5000 keer op Facebook gedeel.

“Dit gaan nie oor die agts nie,” sê David in die video, waarna die mans hom dreig met: “Ons gaan jou saamvat. Ons laai vir jou f***** in!”

Die man sê verder hardop David het “’n k** movie van die agts gemaak”.

Die agts verwys na die 28’s, ’n berugte bendegroep in Kaapstad. Noem My Skollie vertel die verhaal van ’n groep jong vriende wat ’n bende stig. Toe twee van die groeplede in hegtenis geneem word, begin een van hulle in die tronk stories vertel.

Die fliek is vanjaar Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die gesogte Oscars.

John Fredericks, die draaiboekskrywer, het aan Netwerk24 gesê die film is vooraf aan gevangenes in Pollsmoor gewys en niemand het toe ’n probleem daarmee gehad nie.

“Manne met hoë range het met trane in hul oë gesit. Nie een van hulle het na my toe gekom en gesê hulle het ’n probleem met die fliek nie.”

Kyk hier na die lokprent vir Noem My Skollie: