Volgens littlewoods.com koop mans gemiddeld elke sewe jaar nuwe onderklere, terwyl een uit vyf mans erken dis normaal om twee of drie dae aaneen dieselfde paar te dra. Sowat ses persent van mans dink dis “aanvaarbaar” om drie dae aaneen dieselfde paar te dra . . .

Daar is ook in die peiling bevind dat ’n tiende van mans tussen 25 en 34 nog op hul ma staatmaak om hul onderklere te koop.

En natuurlik is vroue glad nie gelukkig met mans wat vuil onderklere duld nie. Amper twee derdes van vroue gebruik Valentynsdag as ’n verskoning om vir hul maat nuwe onderklere te koop.

Volgens askmen.com is dit noodsaaklik dat mans ’n stel onderklere net een keer dra en dit daarna was; daar bly sowat 1 g ontlasting ná ’n dag se dra in die onderklere agter.

Hulle raai aan dat mans minstens 10 stelle hê en dit dadelik moet vervang as dit skeurtjies of gaatjies in kry.

– Christiaan Boonzaier

BRON: DAILYMAIL.CO.UK