Vandag is ’n groot dag vir Suid-Afrikaanse krieket. Die nasionale mans- en vrouekrieketspan het albei deurgedring na die halfeindronde van die T20-wêreldbeker in Bangladesj. Die vroue speel halfelf die oggend (SA tyd) teen Engeland, en die mans kom drieuur vanmiddag teen Indië te staan. Albei wedstryde word in Dhaka gespeel.

Die vrouespan het Nieu-Seeland Maandag in ’n naelbytstryd verslaan, terwyl die mans Saterdag met Engeland afgereken het.

Mignon Du Preez, kaptein van die vrouespan, het ná haar span se geskiedkundige oorwinning gesê dit het gehelp dat soveel mense verwag het Nieu-Seeland sou wen. “Ons het onder die radar gevlieg. Ons het besluit om ekstra hard te werk en vrylik te speel omdat ons niks gehad het om te verloor nie. Ek dink die manier waarop ons karakter gewys het, was ongelooflik. Dis vir my ’n eer om die kaptein te wees.”

Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van Krieket SA, het die vrouespan geloof vir hul sukses. “Ons Proteas was nog altyd onder die wêreld se elite. Dis baie bemoedigend dat ons vroue ook wys wat in hulle steek. (Hul) naelskraapse nederlaag teen Australië, die verdedigende kampioen, en die welverdiende oorwinning teen Nieu-Seeland, wat tot in daardie stadium onoorwonne was, is ’n belonging vir die harde werk om hul spel te verbeter.”

Die Protea-mans se kaptein, Faf du Plessis, het ook die vroue gelukgewens ná hul oorwinning. “Dis ’n wonderlike prestasie teen ’n goeie span en in moeilike toestande. Dit gebeur nie gereeld dat Suid-Afrika so ’n sterk teenwoordigheid in ’n Wêreldbeker het nie; daarom is dit regtig ’n trotse oomblik vir ons land.”

• Suid-Afrika se twee halfeindrondes word vandag op SuperSport uitgesaai. SABC3 saai die mans se wedstryd uit, maar dis nog onseker die vroue se wedstryd ook op die kanaal uitgesaai gaan word