Larry Harcar, ’n aanhanger van die fliekreeks (met Johnny Depp as die seerower Jack Sparrow), het in ’n kostuum in sy buurt gestap – kompleet met ’n speelgoedpistool en –swaard – toe twee bure hom vir ’n dief aansien, het die Sun-Sentinel Maandag berig.

Die bure, Ahmed Othman (24) and Muhamad Ahmad (22), het die polisie ontbied en het die reg in eie hande geneem toe hulle hom gewaar in ’n woongebou in Dania Beach, Florida.

Die twee mans het pistole uitgehaal, Larry grond toe gedwing en ’n pistool teen sy kop gehou terwyl hulle die toegewyde Jack Sparrow-aanhanger verbaal mishandel het.

Ahmed het gesê die kostuum het hom “banggemaak”, sê die polisiespeurder Stephanie Newton van die Broward-balju se kantoor.

Die twee word aangekla van ernstige aanranding met ’n vuurwapen, aanranding en wederregtelike inhegtenisneming. Hulle is albei op borgtog van R93 500 vrygelaat, het die koerant berig.

Larry (49) sê hy trek gereeld ’n Jack Sparrow-kostuum vir die pret aan en was op pad huis toe om die kostuum te verstel toe die mans hom bydam.

Ahmed se prokureur, Lawrence Hashish, het gesê die voorval was ’n fout.

“Dis net ’n misverstand,” het hy gesê. “Die man het ’n pistool en swaard gehad; hulle het nie geweet dis speelgoed nie.”