Candice (27), die man met wie sy ’n affair gehad het en dié se neef, is Saterdag oorlede toe ’n klein vliegtuig waarin hulle gereis het op die plaas Doringkop tussen Machadodorp en Carolina in Mpumalanga neergestort het, berig Netwerk24

Die viersitplek Cessna het aan Candice se minnaar, Herklaas Smith, behoort wat dit volgens News24 ten tyde van die voorval gevlieg het.

Herklaas se neef, Ernst Labushagne, is ook in die ongeluk dood. Na wat verneem word was Herklaas ook besig om van sy vrou, Anel, te skei.

Manna Delport (30), ’n piesangboer van Komatipoort, het gesê hy’s ontroosbaar ná Candice se dood. “Ek het die liefde van my lewe verloor,” het hy gesê. Die paartjie het ’n driejarige dogter. “My hart het saam met haar in daardie ongeluk doodgegaan.”

Candice het ten tyde van die ongeluk by haar ouers gewoon, maar die paartjie was nog getroud. “Ek het lang ure gewerk en dit was toe dat die verhouding tussen Candice en Herklaas begin het,” het Manna verduidelik.

Manna het in ’n hartroerende inskrywing op Facebook sy hart oor sy verlies uitgestort. “Jy het my hart gesteel vanaf die oomblik wat ek jou gesien het. Jy’t my laat glo in liefde met die eerste oogopslag en elke keer as ek jou gesien het, het die liefde gegroei, selfs met net ’n oogwink.

"Waar jy nou jou weg na die hemel maak, weet net jy is die mees geliefde vrou op aarde. Ek sal ons kind na die beste van my vermoë grootmaak, maar ek sal nooit jou skoene kan vul nie! Die lewe is so onregverdig . . . en hoe dit eindig. Ek sal altyd trots wees om jou my vrou te noem!”

Netwerk24 het met ’n bron gepraat wat beweer hy het al saam met Herklaas gevlieg. Hy het Herklaas ’n “cowboy” in die lug genoem.

Die vliegtuig het kort ná opstyging neergestort, het die Suid-Afrikaanse polisie in ’n verklaring gesê.

“Twee van die slagoffers is onherkenbaar verbrand, behalwe een wie se bolyf nog identifiseerbaar is. Beamptes van die burgerlugvaartowerheid was op die toneel om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek en die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.”

Bronne: Netwerk24, News24, EWN

** Lees die volledige, hartroerende onderhoud met Manna in vandeesweek se Huisgenoot, wat Donderdag op die rakke is.