Manie het Woensdag in ’n Facebook-inskrywing sy aanhangers vertel dat sy pa onlangs ’n hartaanval gehad het en in die hospitaal opgeneem is.

“Hy lê tans in die hoësorgeenheid nadat hy ’n ernstige hartaanval gehad het en ook ernstige nierversaking,” het Manie geskryf by ’n foto van hom en sy pa.

Hy het gevra dat sy aanhangers vir sy pa bid.

“Ek kom uit ’n ouerhuis waar ons nog glo aan gebed en ook weet dat wonderwerke wel gebeur. Ons het dit baie nodig nadat ons my broer vyf maande gelede aan die dood moes afstaan.”

Manie se broer, Jaco, is in Julie verlede jaar oorlede.

Huisgenoot het berig dat Jaco weens komplikasies met ’n vergrote hart oorlede is.

“Dankie Heer dat ek Jaco as ’n ouer broer kon hê,” het Manie kort ná sy broer se dood op Facebook geskryf. Hy het ook hulde aan sy broer gebring deur talle foto’s van hom met sy aanhangers te deel. “Elke mens wat hom geken het, sal saamstem dat hy spesiaal was!”