Die country sanger Manie Jackson (36) het Maandag die tragiese nuus bevestig dat sy broer, Jaco, na ’n lang lyding oorlede is.

"Vir elke gebed wat vir my broer en familie opgegaan het, wil ek baie dankie sê," het Die Hemel Weet-sanger op sy Facebook-blad geskryf by foto's van sy broer.

Jaco is vroeg Maandagoggend weens komplikasies met ’n vergrote hart oorlede.

"Dankie Heer dat ek Jaco as ’n ouer broer kon hê," skryf Manie verder. "Elke mens wat hom geken het sal saamstem dat hy spesiaal was!"

Vroeër vandeesmaand het Manie ’n pleidooi aan sy aanhangers gerig om asseblief vir sy broer te bid. "Jaco se hart het ingegee en werk dus nie meer nie. Hy moet nou ’n hartoorplanting kry en is op ’n waglys geplaas," het Manie geskryf.

"Ek vra dat julle asseblief vir hom sal bid en ook sy gesin in julle gebede sal opdra."

Jaco, Manie se tweede oudste broer, was 45. Hy is reeds twee jaar gelede met ’n vergrote hart gediagnoseer. Hy het onlangs ook ’n pasaangeër ontvang.

Hy word oorleef deur sy vrou en twee kinders.