Volgens dié ranglys, wat die afgelope naweek uitgereik is, het Mango die derde vaagste naam ter wêreld; Solar Air van Thailand is eerste en Peach van Japan tweede.

“Wat beteken dit, Suid-Afrika?,” vra Huffington Post se Suzy Strutner. “Beteken dit die vliegpersoneel is so soet soos ’n mango? Of dat die vliegtuig in die lug hang soos ’n onryp mango? Of dat dit . . . grond toe gaan val soos ’n mango?”

In reaksie op haar vrae sê Hein Kaiser, Mango se woordvoerder, dis nogal “parmantig” van ’n joernalis wat waarskynlik nog nie in Suid-Afrika was of die lugredery ken nie, om sulke gevolgtrekkings te maak. Hy het nog nie van die ranglys gehoor toe Huisgenoot hom daaroor uitvra nie, maar sê die naam se oorsprong “is eintlik vervelig en glad nie opwindend nie”.

“Voor die lugredery nog ’n naam gehad het, het die direksie kleurkaarte deurgekyk op soek na die beste kleur vir die vliegtuig se sitplekoortreksels en heel toevallig op ’n helder oranje afgekom.

“Die naam van die oranje op die kleurekaart was ‘mango’. Toe ons dit sien, was dit ’n eureka-oomblik. Dis ’n energieke, bekwame kleur vol lewe, en ons het gevoel dit sal die beste pas by die kultuur wat ons wou kweek, toe doop ons die lugredery Mango Airlines.”

Hy voeg by dat geen van Mango se vliegtuie sedert die lugredery se ontstaan in 2006 grond toe geval het, soos wat Suzy in haar artikel wonder nie.

“Ons vliegtuie word deur (die SAL se tegnici) onderhou; hul werk is van die beste ter wêreld,” meen hy.

“Veiligheid is een van ons topprioriteite en ons vliegtuie het nog nooit grond toe geval soos ’n mango nie.”

– Christiaan Boonzaier