Die blinde marathon-atleet Mandla Zwane (32) tree vanjaar aan vir sy negende Comrades-marathon met splinternuwe tekkies.

Mandla, ’n oudleerder van die Arthur Blaxall Skool vir Blindes in Pietermaritzburg, is blind gebore, maar dit het nog nooit gekeer dat hy aan sport deelneem nie. Op skool het hy sokker gespeel en aan atletiek deelgeneem en ná matriek begin inskryf vir padwedlope.

Toe Huisgenoot vroeg vanjaar Mandla se verhaal vertel, het dit die grootbase van die skoenwinkel Tekkie Town so aangegryp dat hulle vir hom ’n nuwe paar tekkies geskenk het. Ettienne van Zyl, hul gebiedsbestuurder in KwaZulu-Natal, het die paar skoene by sy huis op Nongoma in Zoeloeland gaan aflewer.

“Mandla se storie was vir ons ’n inspirasie. Vir baie mense is dit net ’n paar skoene; vir Mandla is dit meer as net dit. As ons met ’n paar skoene iemand kan help om sy drome te verwesenlik, doen ons dit graag,” sê Francétte van Rooyen van Tekkie Town.

“Ek is so dankbaar,” het Mandla gesê toe ons hom daarna bel. “Voorheen kon ek nie so hard oefen as wat ek wou nie, want ek was bang my tekkies raak te veel afgeloop en ek het nie geld vir nuwes gehad nie. Nou kan ek oefen so veel as wat ek wil.”

Mandla voeg by dat Tekkie Town se goeie daad hom motiveer om die hardste tot nog toe te oefen. “Jy moet net voel hoe gemaklik die tekkies hardloop!”