SY WAS ’n tipiese tiener met draadjies in haar tande, ’n pragtige, lewendige meisiekind wat graag saam met haar maats pannekoek gebak en skoonheidskompetisies gereël het.

En eendag, het sy altyd gesê, gaan sy ’n plastiese chirurg word.

’n Jaar gelede het Zenani Mandela die groot eer gehad om die wentrofee by die Konfederasiebeker-sokkertoernooi podium toe te dra voor dit aan die Brasiliaanse sokkerspan oorhandig is. Maar op 11 Junie vanjaar was sy toe nie by die grootse sportskouspel wat Suid-Afrika nog beleef het nie.

Haar oupagrootjie, oudpres. Nelson Mandela, en haar oumagrootjie, Winnie Madikizela-Mandela, se plekke was ook leeg.

Tata, soos sy hom genoem het, was by sy huis in rou, en Mama was in die hospitaal weens skok nadat die lewe van hul geliefde Zenani in die vroeë oggendure van daardie dag so tragies kortgeknip is.

Die vorige aand wou sy op die verhoog saam met Shakira dans, het die snip nog ewe vertel voor sy opgewonde na die Orlando-stadion in Soweto is vir die groot openingskonsert van die Wêreldbekertoernooi die aand voor die amptelike afskop.

Zenani het toe nie op die verhoog gedans nie, maar wel in die skare saam tienduisende ander ekstatiese, lewensblye jong mense nes sy. Maar toe, op pad huis toe, verloor die 23-jarige bestuurder beheer oor die motor en die lewe van die meisie wat net twee dae tevore 13 jaar oud geword het, word binne ’n oogwink soos ’n kersvlam uitgedoof.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Junie 2010.

Op die internet:

www.nelsonmandela.org

Bespreek vir Skouspel!