madiba3

Oudpres. Nelson Mandela se familie het gister in ’n onderhoud met SAUK-televisienuus ’n rare beskrywing van sy toestand gegee.

Sy dogter Makaziwe Mandela het uit die vuis gepraat en gesê: “Tata is nog met ons. Baie sterk, soos ek gesê het baie dapper, selfs . . . by gebrek aan ’n beter woord, op sy sterfbed, dink ek leer hy steeds vir ons lesse. Lesse oor geduld, lesse oor liefde, lesse oor verdraagsaamheid.

“Elke oomblik, elke minuut saam met Tata verstom my . . . Daar is kere dat ek myself moet knyp dat ek van hierdie man kom wat so sterk is, wat ’n vegter is. Selfs in oomblikke wanneer jy kan sien hy sukkel, is die veggees steeds daar,” het sy gesê.

Makaziwe het met die SAUK gepraat ná afloop van die bekendstelling van die Nelson Mandela Opus in Johannesburg.

Mandela se vrou, Graca Machel, sy kleinseun Ndaba Mandela en nog familielede was ook daar.

Ndaba Mandela het gesê: “Hy is steeds met ons, al gaan dit nie goed met hom by die huis in die bed nie, maar ons het gevoel ons moet iets spesiaals vir hom doen.”

Mandela was amper drie maande in die hospitaal nadat hy in Junie in Mediclinic se Harthospitaal opgeneem is met ’n gedurige longontsteking.

Tydens sy hospitaalverblyf het die president se kantoor berig hy is in ’n kritieke maar bestendige toestand.

Die wêreldikoon is in September ontslaan en word sedertdien tuis behandel.

Pres. Jacob Zuma het Mandela op 18 November tuis in Houghton besoek. Daarna het Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, gesê: “Die gesondheid van die oudpresident bly baie dieselfde as hoe dit was toe pres. Zuma hom laas besoek het, naamlik bestendig maar kritiek, terwyl Madiba steeds op behandeling reageer.”

-   Sapa