Dit gaan deel wees van die gebou se eeufees.

Zuma het in Houghton gepraat tydens die opening van die Nelson Mandela-herinneringsentrum se openbare fasiliteit en ’n permanente uitstalling oor Mandela se lewe.

“Dié hulpbronne is ’n onontbeerlike deel van ons nasie se erfenis,” het hy gesê. “Hulle is ons nasie se skatte en moet bewaar word. Die sentrum maak ’n groot bydrae tot die integrasie van bevrydingserfenis en kulturele erfenis.”

Pres. Zuma het Suid-Afrikaners gevra om in hul alledaagse lewe, en nie net op Mandeladag wanneer mense gevra word om ander te help, die waardes uit te leef waarvoor Mandela gestaan het.

Hy het gesê uitstallings oor Mandela se lewe word in Parys en Washington beplan. “Die uitstalling lok steeds rekordgetalle en bewys weer dat Tata inderdaad ’n wêreld-ikoon is. Ons doen dit om die wêreld se mense te bedank dat hulle ons bygestaan het in ons stryd teen apartheid.”

Hy het Mandela sterkte toegewens met sy herstel tuis. Mandela het vroeër vanjaar sowat drie maande in die hospitaal deurgebring vir ’n knaende longinfeksie voor hy op 1 September ontslaan is. Hy ontvang steeds behandeling tuis.

Tokyo Sexwale, ’n trustee van die Nelson Mandela-stigting, het gesê die sentrum maak staat op donasies en gevra dat Suid-Afrikaners skenk wat hulle kan. “Die erfenis moet vir altyd bly voortleef. Daar sal ’n tyd kom wanneer Madiba moet groet, maar die naam leef voort. Vergeet van die miljoene dollar (van groot skenkers); elke sent tel.”

Die streekradiostasie Kaya FM, die Britse sokkerklub Sunderland, die klerehandelaar Edcon en die Amerikaanse ambassade is die sentrum se nuwe borge. Die sentrum bevat argiewe wat die oudpresident se stigting oor die jare versamel het en sal oop vir die publiek wees.

Die uitstalling bestaan onder meer uit ’n blik op Mandela se ou kantoor, ’n paar publikasies waarin hy verskyn het, die Nobel-vredesprys wat hy in 1993 ontvang het en ’n aantal kunswerke. – Sapa