Mense het vlaggies gewaai, gesing, gedans en fone en tablette in die lug gehou toe die oop, swart lykswa verbyry met die kis met die Suid-Afrikaanse vlag daarop. Oral het mense trane afgevee.

“Vergewe en vergeet”, “leef in vrede met ander”, “respek vir jou medemens” en “bring verandering op jou manier” was van die lesse wat mense by die oudstaatshoof geleer en ter harte geneem het, het toeskouers aan Huisgenoot gesê.

[post-slider]

Die stoet het omstreeks agtuur by die Uniegebou aangekom. Deur die loop van die dag sal mense toegelaat word om na Mandela te gaan kyk. Mense moet of na die skouterrein of na L.C. de Villiers-sportterrein gaan waar daar parkeer-en-ry-geriewe is. ’n Polisiebeampte het aan Huisgenoot gesê die mense sal by die parkeer-en-ry-geriewe deursoek word voor hulle na die Uniegebou aangery word. Geen kameras of fone word binne toegelaat nie.

Hilda Fourie