00003714

Nelson Mandela het sonder enige lewensondersteuning self sy laaste asemteug geneem in die teenwoordigheid van sy naasbestaandes, berig ’n Sondagblad.

“Teen die tyd dat hy Donderdagaand dood is, was hy nie aan ’n lewensondersteuningsmasjien gekoppel nie en het hy self asemgehaal, luidens ’n berig in gister se Sunday Times.

Die anti-apartheidstryder wat Suid-Afrika se eerste demokratiese verkose president geword het, is die afgelope jare gereeld met longprobleme in die hospitaal opgeneem en moes dikwels op kunsmatige asemhaling staatmaak.

Die Sunday Times berig Mandla Mandela is dringend van die dorpie Mvezo in die Oos-Kaap ontbied om langs sy oupa se bed te wees.

Daar was ook hooggeplaastes in die ANC, die party wat Mandela eens gelei het, en godsdiensleiers wat familie en vriende vertroos het.

Volgens die City Press is nabye familielede twee-twee en drie-drie in sy kamer toegelaat vir ’n laaste, privaat oomblik.

“Diegene in die huis vertel ’n oorweldigende hartseer het dit oorspoel,” volgens die koerant se webtuiste, en het bygevoeg die oudpresident het maande nie ’n woord gepraat nie.

Die Sunday Times het Bantu Holomisa, een van die laaste mense wat Mandela gesien het, aangehaal dat hy  gesê het hy het ’n oproep gekry die president se toestand het agteruitgegaan.

“Ek het hom dadelik in sy kamer besoek. Ek was baie hartseer om te sien sy situasie het baie versleg vandat ek hom laas gesien het,” het die politikus gesê.

Holomisa het langer as ’n uur by Mandela deurgebring en is by die huis weg sowat anderhalf uur voor die staatsman dood verklaar is.

“Die familie was baie sterk, maar die luim was somber. Die moeilikste oomblik was toe die weermag omstreeks middernag aankom om Madiba se lyk weg te neem,” haal die koerant iemand aan wat daar was.

“Toe hulle met sy lewelose lyk uit sy kamer op die boonste verdieping kom, gevolg deur Mandla, het dit begin insink: Madiba is weg.”