Die vermeende moordenaars van ’n vrou wat verlede jaar op ’n kleinhoewe op Kameelfontein doodgeskiet is, sal Donderdag in die landdroshof op Cullinan buite Pretoria verskyn.

Jurie Steenberg en sy vrou, Riekie, is in Junie verlede jaar in hul huis deur gewapende mans oorval. Albei is in die aanval geskiet en Riekie is kort ná die aanval op die toneel oorlede.

Jurie het Woensdagmiddag gesê sy vuurwapen, wat in die rooftog gesteel is, is deur die polisie teruggevind. Oor die inhegtenisneming sê hy: “Gaan die straf wat hulle (eindelik gaan) kry, ’n lewe regverdig?”

Hy kan nie sê hy is bly oor die onlangse ontwikkelinge nie. “My lewe is verby. Ek sukkel om te werk, want my arm (waarin hy geskiet is) is baie seer.”

Jurie het gesê die aanvallers kon die aand van die voorval uit sy huis gevat het wat hulle wou. “Maar hulle kom met wapens en jy kan jouself nie verdedig nie.”

In die proses het hy “so baie” verloor, sê hy. “Ek het weggetrek van my hoewe af waar ek ’n baie mooi huis gehad het. Ek woon nou in ’n huurhuis en kry nie die prys wat dit werd is nie.

“Ek was baie lief vir Riekie en probeer met my lewe aangaan, maar jy het nie ’n lewe nie,” het hy gesê.