Twee hegte vriende is dae uitmekaar dood in afsonderlike ongelukke met ’n mikroligte vliegtuig, het Netwerk24 Donderdag berig.

’n Banier met die woorde “RIP Wynand” het dalk iets daarmee te doen gehad dat Walter de Lange (44) se mikroligte vliegtuig Dinsdagmiddag net ná vyfuur naby die Springs-lughawe neergestort het. Hy is op slag dood.

Die banier was vir sy vriend Wynand Snyders (50), wat Sondag in ’n soortgelyke ongeluk naby Lephalale omgekom het.

Wynand se neef Jannie (16) het ernstige beserings opgedoen.

Walter se vrou, Liza, het gesê Wynand se dood was vir haar man ’n groot slag.

“Die twee was groot vriende,” het sy Woensdag tuis in Boksburg gesê.

Wynand het Walter se dogter, Mia (14), in die skietkuns afgerig.

Walter het Dinsdag vir sy vrou ’n teksboodskap gestuur om te sê hy gaan gou ’n ent in ’n vliegtuig vlieg.

Hy het ’n banier vir die vlug gemaak met die woorde “RIP Wynand” daarop.

“Ons glo iets het met die banier gebeur wat die enjin laat staak het,” het Liza gesê.

Sy het gesê haar man het meer as vyf jaar ervaring met die mikroligte vliegtuig gehad.

Walter se familie is geskok.

“Dit het alles so vinnig gebeur. Hy het ’n SMS gestuur kort voor hy gaan vlieg het en gesê ek moet vir die kinders sê hy is lief vir hulle.

“Hy was die beste pa. Hy was absoluut wonderlik met die kinders. Hy was ’n goeie man, ’n wonderlike man.”

Liza het gesê haar man het vir vlieg geleef en wou ’n lugmagvlieënier geword het, maar sy oë was te swak.

“As hy ’n manier kon kies om te sterf, sou dit so gewees het.”

Die lugvaartowerheid ondersoek albei ongelukke.

Intussen maak Wynand se neef Jannie goeie vordering, het sy suster Magda aan Netwerk24 gesê. Hy kan nou op sy eie asemhaal, het sy gesê.

“Jannie reageer goed. Hy maak sy oë self oop, maar is nog nie buite gevaar nie. Hy kan enige tyd ’n terugslag beleef.”

Bron: Netwerk24