Dit het eers gelyk na ’n vreeslike, nare ongeluk. Die soort ongeluk wat elke ouer vrees en waaroor ons te gereeld in koerante lees.

Maar alles was nie pluis met die vertelling van Justin Ross Harris (35) van die Amerikaanse deelstaat Georgia nie. Hy het gesê hy het in April 2014 vergeet om sy 22-maande oue seuntjie, Cooper, by die dagsorg af te laai en hom per ongeluk in die kar vergeet.

Cooper het gesterf nadat hy sowat agt uur lank in die motor, wat binne sowat 49 °C was, deurgebring het.

“Hierdie is ’n verswarende moord op ’n ander mens - ’n kind - en daar is net een vonnis wat die wreedheid weerspieël van wat hy gedoen het,” het die staatsaanklaer gesê toe hy die hof vra om die swaarste straf moontlik vir Harris op te lê.

Harris is vroeër skuldig bevind aan die moord op sy seuntjie nadat aangevoer is hy het Cooper opsetlik in die kokende motor gelaat omdat hy van sy gesinsverpligtings ontslae wou raak.

Die hof het Harris Maandagoggend ’n lewenslange vonnis sonder die opsie van parool opgelê en hom bykomende vonnisse gegee omdat hy ook ’n minderjarige aangemoedig het om in seksdade met hom betrokke te raak.

Hy is ook bykomende tronkstraf vir kindermishandeling opgelê omdat sy seuntjie ’n nare, pynlike dood gesterf het.

Selfoonrekords het gewys hy het die dag van Cooper se dood met ses vroue seksboodskappe geruil, waarvan een minderjarig was.

Hy het glo ’n dubbele lewe gelei en was in die oë van die gemeenskap en sy gesin ’n voorstedelike pa, maar het in die geheim met sekswerkers seks gehad, buite-egtelike verhoudings gehad en op die internet met vroue en jong meisies kuberverhoudings aangeknoop. Boonop het Harris enkele dae voor sy seun se dood aanlyn na inligting gesoek oor hoe lank dit sou neem om binne ’n warm motor te sterf.

Cooper se ma en Harris se eksvrou, Leanna Taylor, met wie hy ’n dekade lank getroud was, het sedert Harris se verhoor begin het, van hom geskei.

“Cooper was die lieflikste klein seuntjie. Hy het soveel lewe in hom gehad. Hy was my alles,” het sy deur trane in die hof vertel.

Bronne: The Sun, CNN, NBC News