Thys word as ’n positiewe mens beskryf, met ’n goeie humorsin en boonop was hy ’n suksesvolle sakeman. Hy is die pa van drie seuns, Donavan (21) en ’n tweeling van 11 jaar oud.

Hy en Willemien is op 30 Maart 1996 getroud en het onlangs hul 21ste huweliksherdenking gevier. 

Thys Palm nadat hy buite 'n kuierplek in Montana geslaan en sy kop teen 'n trappie gestamp het en daarna in die hospitaal. Verskaf

Op 18 Maart vanjaar het die gesin se lewe verander.

Donavan en sy meisie, Carmen, en Thys en Willemien het by die  Barristers-restaurant in Montana Park, Pretoria, gaan eet.

“Nadat ons geëet het, het ons besluit om by ’n kuierplek ’n drankie te gaan drink,” vertel Willemien. “Ons het daar aangekom, my man het sy bankkaart in die motor vergeet en hy het uitgestap om die kaart te gaan haal. Intussen was daar ’n bakleiery buite en hy het gesien ’n klomp kinders stry. Een van die kinders het Thys met een hou teen sy slaap grond toe geslaan. Sy kop het op die trap oopgebars. Daar was baie bloed.”

Thys is na ’n hospitaal in Montana gehaas. Dit het nie goed gegaan nie, en die eerste 72 uur was uiters kritiek. Hy het 30 dae lank in die waakeenheid behandeling ontvang. 

Op 7 April het hy sy oë vir die eerste keer oopgemaak. Thys is na die Life Eugène Marais-hospitaal oorgeplaas om rehabilitasie te ontvang. Willemien kon ná drie weke nie meer die mediese onkoste betaal nie, en het versoek dat hulle Thys ontslaan sodat sy hom tuis kan versorg. 

Haar man kon nie loop, eet of drink nie, en het ’n doek gedra. Hy het kwaai geheueverlies gehad en breinskade opgedoen. Sy persoonlikheid het onstabiel geraak. Boonop ly hy nou aan epilepsie as gevolg van die beserings. Sy neem hom weekliks vir arbeidsterapie. 

Thys vorder goed by die huis en kan al self eet en drink. Sy breinskade is egter so erg dat hy nie weer sal kan werk nie. Hy verdien geen inkomste nie.

Willemien, nou die enigste broodwinner, sukkel finansieel om kop bo water te hou. Hulle het ook al ’n paar geldinsamelings gehou omdat ’n ongeskiktheidspolis nie wil uitbetaal nie.

My man is nou ’n baba waarna ek moet omsien.

Willemien en Thys het in Desember 2016 ’n huis in Sinoville, Pretoria, gekoop. Sy kan nou nie meer die huis bekostig nie. Sy benodig hulp om haar eiendom op te deel sodat sy die ander gedeelte van haar huis kan uitverhuur. 

“Ek het die laaste vier maande op my knieë deurgebring. God het my gedra tot waar ons vandag is,” vertel sy. Aan die jong mans wat Thys geslaan het, het sy ’n boodskap:

“Julle het ’n pa en ’n man van sy gesin weggeneem. Dis ’n groot onreg wat julle ons aangedoen het. Tot vandag toe het julle nie eens die moeite gedoen om jammer te sê of om hulp aan te bied nie. In my hart het ek julle vergewe. Maar as gevolg van jul gedrag sal ek dit nie ongesiens laat verbygaan nie.”

Willemien het aanvanklik nie veel aandag gegee aan die misdaadsaak nie, maar van volgende week af sal sy en haar prokureurs bymekaar kom om die saak te bespreek. Sy beplan ook om ’n siviele eis in te dien.