[caption id="attachment_120434" align="alignnone" width="600"]Oscar Pistorius (Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool) Oscar Pistorius (Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool)[/caption]

“’n 33-jarige man is Vrydag in Pretoria gearresteer kort nadat hy ’n deposito van R40 000 vir sy dienste ontvang het wat insluit . . . [om] Oscar Pistorius se moordsaak te vernietig,” het brigadier Hangwani Mulaudzi gesê.

Die man het hom na bewering as ’n beampte van die nasionale vervolgingsgesag voorgedoen en R250 000 vir sy dienste van Oscar geëis.

Die man het Oscar na bewering Donderdagaand gebel en hom ingelig hy kan die saak laat “verdwyn”.

Hangwani sê die polisie het hierdie inligting by een van Oscar se vriende te hore gekom.

“Ons het ’n oproep van Oscar se vriend ontvang.”

Die Valke het glo ’n span ontplooi wat die saak met die familie opneem.

“Die Valke is hiervan ingelig en ondersoek is hierna ingestel. Die verdagte is langs die hooggeregshof in Pretoria gearresteer en van bedrog aangekla. Verdere klagte kan nie uitgesluit word nie.”

Die Pistorius-gesinswoordvoerder, Anneliese Burgess, het aan News24 gesê: “Ek dra geen kennis hiervan nie. Ek kan nie kommentaar lewer op goed waarvan ek nie weet nie.”

Die man sal na wat verwag word Dinsdag in die Pretoriase hof vir gespesialiseerde kommersiële misdade verskyn.

Bron: News24