Toe Valdelucio Goncalves se bedroefde broer die volgende oggend sy liggaam in die lykshuis in Salvador, Brasilië, gaan besigtig het, het hy Valdelucio in ’n toegeritste lyksak sien “wriemel”.

“Ek moes hom net nuwe klere aantrek sodat hy reg kon wees vir die begrafnisondernemer om hom te kom haal,” het sy broer Walterio aan ’n Brasiliaanse G1-webtuiste verduidelik. “Die werkers by die lykshuis het my ingelaat en gewys waar hy lê. Hy was in ’n lyksak.”

Maar toe Walterio die lyksak nader (wat oornag op ’n tafel in die lykshuis gelos is), het hy sy broer sien beweeg.

“Ek het kop verloor en die mediese span en verpleegster geroep sodat hulle kan sien wat gebeur. Hulle het hom ondersoek en het bevestig hy lewe nog.

Daar is in Mei maagkanker by Valdelucio (54) gediagnoseer en hy is die aand net ná elfuur by die Menandro de Farias algemene hospitaal dood verklaar, vermoedelik weens respiratoriese en veelvuldige orgaanversaking, berig die Daily Mail.

“Dit was vir ons almal ’n skok toe hulle ons bel met die nuus van sy dood,” het sy niggie Patricia Cintra gesê. “Maar ons het begrafnisreëlings begin tref.

“Teen Sondagmiddag was alles gereël. Ons het betaal vir die doodsberig in die koerant, het die kis gekoop en sy begrafnis bespreek.

“Sy voete was reeds vasgebind en sy neus en ore met watte gestop.”

Nadat Walterio die hospitaal laat weet het sy oorlede broer lewe nog, is Valdelucio na die hoësorgeenheid gehaas.

Dit is nie verbasend nie dat Valdelucio se gesin besluit het om hom na ’n ander hospitaal laat oorplaas.

Bronne: dailymail.co.uk, g1.globo.com, mirror.co.uk, bbc.com