Hy was 21, maar met die verstandelike vermoë van ’n 12-jarige.

Edgar het destyds in ’n groepshuis in Kitchener gebly en dis hiervandaan wat hy weggedwaal het.

Lees ook: Ontvoerde seun 13 jaar later gevind

Sy ma, van Ottawa, het lankal moed opgegee dat sy ooit weer haar seun sou sien. Sylvia Wilson se grootste vrees was dat hy gesterf het. Die laaste keer dat sy haar seun gesien het, was toe hy in die hospitaal aangesterk het nadat hy sy eie lewe probeer neem het.

In Januarie 2016 het daar ’n verwikkeling gekom in die saak van die vermiste Edgar Latulip. ’n Vyftigjarige man in St. Catharines het skielik brokkies uit sy verlede begin onthou. Hy het ’n naam aan ’n maatskaplike werker gegee en ná ’n soektog op die internet, het talle klokkies begin lui. “Die maatskaplike werker het iets op die internet gevind wat hulle laat glo het daar steek iets meer in die man se herinneringe,” het konst. Philip Gavin van die Niagara-streekspolisie gesê. Speurkonst. Duane Gingerich, verbonde aan die Waterloo-streekspolisie wat toentertyd Edgar se verdwyning ondersoek het, is verheug oor die nuus.

“Ek het altyd gehoop hy’s iewers daar buite. Vir ons ondersoekspan is dit wonderlike nuus dié. Dis bevredigend omdat die meeste van hierdie soort gevalle nie op so ’n manier verloop nie. Jy verwag altyd die ergste as iemand so lank al vermis word.”

In 2014 het Sylvia gesê haar seun se verdwyning het ’n pynlike leemte in haar lewe gelaat.

“Dit was heeltyd in my agterkop. Toe Edgar verdwyn het, het ek baie siek geword. Ek moes van my werk af wegbly en ek was baie na aan ’n senu-ineenstorting,” het sy gesê.

Lees ook: Oorlewingswenke vir ouers

Met Edgar se identiteit wat nou bevestig is, word daar aan ’n reunie met sy familie gewerk.

Sylvia, nou 76 jaar oud, het haar ongeloof oor die nuus uitgespreek.

"Ek weet nie juis wat om te dink nie. Ek was net geheel en al oorbluf. Ek wil met hom praat en hom op enige denkbare manier help. Ek wil hom net sien," het sy gesê.

* Edgar se geheueverlies is moontlik te wyte aan ’n kopbesering wat hy opgedoen het kort nadat hy per bus na die Niagara-waterval vertrek het.

Intussen het DNA-toetse ook bewys dat Edgar inderdaad dieselfde mens is wat 30 jaar gelede verdwyn het.

Bronne: news.sky.com, niagarathisweek.com, independent.co.uk

Ander stories op huisgenoot.com:

Sterre skitter by Bolandse première van Vir Altyd

Sexy Bobby slaan asems weg met Engelse musiekvideo

Kyk net hierdie bekendes se verborge talente

Hoe nou? Kyk net watter lawwe verskonings gebruik mense om weg te bly van die werk af!

Nuttige veiligheidswenke om jou spruit te beskerm

Wat is die gevaarlikste dier ter wêreld???