’n Man in Londen, Engeland, is deur sy Staffordshire-terriër doodgebyt ten aanskoue van ’n BBC TV-span.

Luidens MailOnline is die 41-jarige man omstreeks halfelf die aand hospitaal toe gejaag, maar twee uur later dood verklaar.

Die aanval het in die woonbuurt Wood Green in die noorde van Londen gebeur, waar die BBC besig was om ’n onderhoud met hom te voer vir ’n dokumentêre insetsel.

Luidens berigte het die Staffordshire-terriër sy baas aan die nek beetgekry en is dié dood as gevolg van skade aan sy lugpyp, bloedverlies en skok.

Die polisie hou die hond tans in veilige bewaring terwyl besluit word of die dier van kant gemaak moet word of nie.

Volgens Sky News word dié spesie nie verbied deur die sogenaamde wet teen gevaarlike honde nie en bly dié honde steeds gewild onder Britte.

’n Woordvoerder van die BBC het gesê hulle is bewus van die voorval, maar verkies om nie kommentaar te lewer nie aangesien die saak nog ondersoek word.

Volgens bure was die hond "’n goeie hond".

Bronne: The Daily Mail, The Mirror, The Sun, Sky News