Kenneth Manzanares, Kristy se man, het Dinsdagaand tydens die vaart aan boord van die Emerald Princess sy humeur met haar verloor.

“Sy wou nie ophou om vir my te lag nie,” het hy later gesê.

Maar Kristy gaan nooit weer lag nie. Sy gaan ook nooit weer haar drie kinders sien nie.

Sy het kort ná 21:00 daardie aand in hul kajuit gesterf nadat sy ’n ernstige kopbesering toegedien is. ’n Lid van die Emerald Princess se mediese span en ’n sekerheidsbeampte is na die kajuit ontbied nadat ’n rusie aangemeld is.

Toe hulle kajuit D726 binnegaan, het hulle die bebloede Kristy op die vloer aangetref. Kenneth se hande en klere was met haar bloed besmeer. Daar was ook heelwat bloed elders in die kajuit.

Kenneth het glo ná die aanranding probeer om sy vrou se lewelose liggaam na die kajuit se balkon te sleep. Die ooggetuie het daarop Kristy se enkels in die hande gekry en haar weer na binne gesleep.

Wat passasiers gehoor het

Charles Rowlen en sy vrou was twee dekke bo die egpaar se kajuit.

“Ek was reeds in die bed en my vrou was besig om te stort. Ek het verskriklike gille gehoor, en, jy weet, dit was nie normaal nie. Dit het soos twee of drie vroue of meisies geklink. Dit was beslis vroue wat gegil het,” het hy aan KTVA gesê.

Sy vrou het glo oor die balkon geleun om uit te vind wat aangaan. Sy het na bewering ’n bloedbevlekte en gekneusde man met snyplekke aan hom gewaar. Dit het gelyk asof die man oorboord wou spring. Charles se vrou was een van diegene wat gesorg het dat sekuriteit ontbied word.


Charles vertel ook van mans wat op mekaar geskree het. Hy het gehoor “iemand het iemand se suster seergemaak” en sê dit het soos ’n familietwis geklink.”

Chris Ceman, ’n entjie verder in die gang af, het vertel van ’n meisietjie wat uit die kajuit gehardloop en om hulp geroep het. “Sy het baie desperaat geklink.”

In hierdie stadium wil die owerhede nie bevestig wie almal in die kajuit was ten tyde van die voorval nie.

Familie en kollega praat

’n Familielid wat verkies om anoniem te bly, het gesê hulle het nooit enige teken van geweld tussen Kristy en Kenneth gesien nie. “Sy was een van die dierbaarste, dierbaarste mense wat jy in jou lewe kon ontmoet.”

Kristy was ’n eiendomsagent vir Sotheby's. Een van haar kollegas, Neil Gibbs, het agterna gesê sy was iemand wat haar werk en haar kinders wonderlik hanteer het. Sy het hulle ook gereeld saam kantoor toe gebring.

Kenneth is in aanhouding en word van moord aangekla.

Die Amerikaanse speurdiens het intussen met meer as 200 van die passasiers onderhoude gevoer om meer lig op die voorval te werp.

Meer oor die Manzanares-gesin

Die paartjie het glo in 2010 finansiële probleme gehad en moes bankrotskap verklaar. Kenneth, ook bekend as Kenny, is ’n borgfasiliteerder. Hy was voorheen bestuurder by Walgreens en het ook vir ’n versekeringsmaatskappy gewerk.

Meer oor die vaart

Die Emerald Princess, een van die Princess Line-groep se passasierskepe, het Sondag vanaf Seattle vertrek, waarna dit Dinsdag by Ketchikan aangedoen het. Ná die voorval moes die roete na Juneau in Alaska aangepas word. Die skip is ure lank vertraag voor dit toegelaat is om na die volgende bestemming te vertrek.

Daar was 3 400 passasiers en 1 100 bemanningslede aan boord.

Bronne: ktva.com, cbsnews.com, ktuu.com