Yang Qingpei (27) van China is Donderdag binne 33 uur sowat 200 km van Yema (wat "Wilde Perde" beteken) in die provinsiale hoofstad Kunming, deur die polisie aangekeer. Hy het aan hulle erken dat hy nie net sy bejaarde ouers nie, maar ook bykans die hele buurt uitgemoor het. Maar wat het hom besiel om 19 mense koelbloedig te vermoor? Dobbelskuld. Want Yang was glo absoluut woedend vir sy ouers omdat hulle nie vir hom geld wou leen om sy dobbelskuld te betaal nie. Toe betaal sy ouers die hoogste prys: hul lewens.

Maar Yang het besef die buurt gaan op hul lyke afkom; iets wat hy te alle koste wou vermy. Toe vermoor hy nog 17 mense om die moord op sy ouers te verdoesel. Sy jongste slagoffer was net drie jaar oud. Die oudste 72. Nog drie van sy slagoffers was jonger as 18. Ses gesinne het geliefdes aan die hand van Yang verloor. Na wat berig word, is die vermoordes Donderdag in verskillende plekke in die dorpie gevind. Skielik het die dorp, wat bekend is vir die kweek van lelies en aarbeie, in 'n bloedstollende nagmerrie ontaard.
'n Hoteleienaar van Kunming, He, het aan die New York Times gesê dat daar eers gedink is die moorde was te wyte aan 'n terreuraanval, soortgelyk aan die moorde wat in 2014 in Kunming plaasgevind het. Tydens daardie aanval het militantes van Xinjiang 29 mense doodgemaak. Nog 'n inwoner, 'n vrou met die van Li, het gesê die dorpie waar Yang die mense vermoor het, is so ver afgeleë dat talle mense nie van die bestaan daarvan geweet het nie.

Daar is bitter min inligting oor presies hoe die moorde plaasgevind het. Dit wil voorkom asof die Chinese regering die voorval geheel en al onder die kombers wou hou. Selfs die Hoboken-treinramp in New Jersey het voorkeur-nuus in die land geniet.

Tog word 'n massamoord totaal ignoreer, al is dit 'n raar verskynsel in die land.

Ene David Bandurski, 'n navorser by die China Media-projek in Hong Kong, beskryf die gebrekkige inligting rondom die moorde as "ongewoon".

Hy skryf dit toe aan die moontlikheid dat die dorpie so ver afgeleë is as een van die faktore. Maar hy dink ook dat die politieke klimaat van die land ook deels agter die stilte skuil. President Xi Jinping hou deesdae die teuels kort vir die soms-weerbarstige media en probeer so ver moontlik enige stories oor rampe te beheer.

Bronne: nzherald.co.nz, metro.co.uk, nytimes.com, cnn.com