Wel, dis hoe ‘Pat’ Brocco van Arizona in Amerika se reis met gewigsverlies begin het – en hy het deesdae die beste figuur ooit!
 
Die 31-jarige het aan ABC News vertel dat hy sy oomblik van insig gekry het toe hy dokter toe is vir sy hoë cholesterol en hy gedink het hy weeg 200 kg – maar hy was geskok toe hy op die skaal sien hy weeg ’n allemintige 274 kg.

Pat is daardie selfde dag huis toe en het ’n foto van sy spieëlbeeld geneem.

Sy maag het op sy bobene gehang.  “Ek was gewalg,” sê hy.

 

Pat het besef hy is verskriklik oorgewig en het net daar besluit om sy lewe te verander.  Die eerste stap was om sy etery te beheer – deur elke keer wanneer hy aan kos gedink het, na die naaste kruidenierswinkel te stap.

Walmart, wat 90 minute ver is, was sy naaste kruidenierswinkel.

As jy drie keer per dag Walmart toe stap, stap jy op die ou end ongeveer 10 km het hy vertel.  “Dis verstommend, want ek het nog nooit in my lewe 10 kilometer gestap nie en nou het ek dit elke dag gedoen,” vertel hy verder.

Pat, wat eens op ’n tyd bekend gestaan het as "Fat Pat", het hom begin toe lê op ’n gesonde dieet en hy het al die kos wat hy inneem, begin naspoor.  Hy het dinge soos suiwelprodukte begin uitskakel – en sy skaal se wysers het begin daal.


  

Toe hy op die oefenmasjiene by die gimnasium kon pas, het hy ’n roetine gevolg wat van hom die man met die golwende spiere gemaak het.

Walmart het, nadat hulle sy verhaal gehoor het, vir Pat met $25 000 (R319 000) beloon en Pat – wat sy naam verander het na "Possible Pat" – het die geld gebruik om sy eie gimnasium te open ten einde ander mense te help wat gewig moet verloor.

Hy het op sy Instagram-blad geskryf: "Dit gaan nie net oor die wil om te verander nie, ons moet glo ons kan verander.  As enigiemand in jou moet glo, begin by jouself.  Daar is geen perke nie, ons skep hulle slegs in ons gedagtes. Ons kan die mense word wat ons wil wees en wat ons begeer!”

Bronne: ABC News, Viral Thread, Instagram