Die Brit Jonathon Hogg het dalk nie ’n vrees vir vlieg gehad nie, maar nou het hy beslis. Dié 40-jarige het ’n paar maande gelede ’n nagmerrie-ondervinding op ’n internasionale vlug tussen Doha en Kaapstad gehad.

Ses uur ná die vliegtuig Doha verlaat het, het Jonathon ’n skielike pyn in sy been gevoel en dadelik gesien hoe ’n spinnekop oor die vliegtuig se vloer laat spaander.

“Ek het gesukkel om gemaklik te raak en my bene gekruis om in ’n beter posisie te kom toe ek die skerp pyn in my linkerbeen voel,” het hy vertel.

Twee lugwaardinne het die spinnekop ook sien wegskarrel. Jonathon was egter nie seker of hy gebyt is nie, want, vertel hy, die pyn was nie so erg nie.

Maar gaandeweg het sy been begin swel en het die pyn al erger geword. Die volgende dag was dit so ondraaglik dat hy besluit het om dokter toe te gaan.

Suid-Afrikaanse dokters het dadelik vasgestel Jonathon is deur ’n giftige spinnekop gebyt, spesifiek ’n bruin vioolspinnekop. Hy is dadelik geopereer om groot hoeveelhede dooie vlees uit sy been te verwyder. “Ek het geweet iets is fout, maar ek het geen idee gehad hoe sleg dit is totdat ek met die chirurg gepraat het nie,” vertel Jonathon. “Ek was verstom toe hy my meedeel hoe naby ek daaraan was om my been te verloor.”

Jonathon was vir ’n maand lank in die hospitaal en moes veloorplantings ontvang. Nou, drie maande later, sukkel hy steeds met die nagevolge van die byt.

Hy oorweeg nou regstappe teen Qatar Airways, die lugdiens waarmee hy gevlieg het. “Lugdienste het ’n verantwoordelikheid teenoor hul passasiers om hulle te beskerm teen moontlike gevaarlike gediertes deur die vliegtuig behoorlik te ontsmet,” het Jonathon se prokureur, Richard Duxbury, gesê.

Bronne: The Guardian; Mirror.co.uk