Kenners het intussen gesê dis onwaarskynlik dat 'n hewige reaksie wat Terry Pareja moontlik op die spinnekop se gif gehad het hom so siek kon gemaak het (soos aanvanklik berig is).

Die spinnekopbyt het moontlik wel, soos 'n ander wond of seerplek, 'n "ingangspunt" verskaf vir 'n vermeende vleesetende bakterie wat Terry se weefsel teen 'n skrikwekkende tempo vernietig en die dubbele amputasie genoodsaak het.

Terry het by sy suster in Melbourne, Australië, gekuier toe 'n spinnekop in haar tuin hom op sy regterbeen gebyt het. Ure daarna het sy been begin swel. Volgens sy dogter, Jeffmarey, het dokters by 'n kliniek gesê dit was 'n witstert-spinnekop ("white-tailed spider", Lampona cylindrata).

Sy toestand het egter drasties versleg en hy is na Horsham Hospital gehaas waar sy regterbeen, milt en 'n deel van sy spysverteringskanaal in 'n noodoperasie verwyder moes word om die verspreiding van die bakterie te keer.

Dit het nietemin verder versprei, en nadat hy in 'n lugambulans na 'n groter hospitaal in Melbourne oorgeplaas is, is sy regterbeen ook afgesit.

Daar's gevrees dat sy arms ook in die slag sou bly, maar ná meer as 'n maand in die hospitaal het sy toestand blykbaar nou gestabiliseer.

"Hy verkeer in groot pyn,'' het Jeffmarey vertel. "Ons weet nou sy siekte is nie veroorsaak deur die gif van die spinnekop nie, maar eerder deur 'n bakterie wat sy liggaam blykbaar deur die wond binnegegaan het.

"Ons was so geskok... dit het hom letterlik lewend geëet. Jy verwag nie dat so iets op 'n familiebesoek sal gebeur nie.''

Terry moes ook aan 'n dialise-masjien gekoppel word omdat sy niere boonop deur die geweldige skok vir sy gestel aangetas is. Maar sy familie is nou heelwat meer optimisties.

'n Chirurg by die hospitaal waar hy nog in die waakeenheid is, meen sy liggaam is wel nou, ná die drastiese stappe om sy lewe te red, van die bakterie ontslae.

Al sal Terry nog baie maande in die hospitaal wees, "vertrou ons hy loop nie meer die risiko om verdere ledemate of organe te verloor nie'', het Jeffmarey aan Australiese media gesê. "Hy veg dapper, en hy verbeter."

Bronne: gofundme.com, news.com.au, thecourier.com.au, YouTube