Marky Warren, wat in Durban grootgeword het, maar deesdae in Londen woon, gaan die 624 km binne 18 dae aflê en wil daarmee bewustheid skep vir motorneuronsiekte (MNS).

Die MNS-lyer Joost van der Westhuizen was in sy rolstoel aan Marky se sy toe hy vanmiddag in Woodmead, Johannesburg, wegspring.

Toe Marky die eerste keer hoor sy rugbyheld is siek, was hy seker Joost sou MNS oorkom omdat hy nog altyd besonders was. Maar toe hy in 2012 tydens ’n onderhoud op die aanlyn radiostasie Ballz Visual Radio hoor hoe Joost se spraak verswak, het dit sy hart gebreek. Marky het besluit hy moet self ook iets doen om ’n verskil in lyers se lewe te maak.

Eers het hy verlede jaar R53 000 ingesamel vir Joost se J9-stigting en Liv Village, ’n huis vir wees- en verwaarloosde kinders in Durban, deur Kilimanjaro uit te klim.

Daarna het hy gewonder wat volgende is. Eindelik het hy besluit om die staptog aan te durf.

Om te oefen het hy weeksdae van sy werkplek in Londen die 24 km huis toe gestap. “Ek het sesuur ophou werk en so halftien die aand by die huis gekom. My katte was nie mal daaroor nie,” het Marky laggend vertel.

Op naweke het hy aan marathons (42 km) deelgeneem. Behalwe vir die eerste en laaste dag, gaan hy daagliks ’n marathon-afstand aflê.

Marky het reeds R16 000 ingesamel. Enigeen wat meer inligting wil hê, kan sy webtuiste www.pharside.co.uk besoek.