Die polisie het Maandagaand ’n man in hegtenis geneem nadat hy na bewering met minstens twee kinders in rolprentteaters in Pretoria wou lol.

In die een voorval het ’n 10-jarige meisie se ma vir haar ’n fliekkaartjie in ’n winkelsentrum in Pretoria gekoop.

Nadat die ma haar kind tot binne-in teater vergesel het en seker gemaak het sy het haar sitplek en alles is in orde, het die ma die fliek verlaat. ’n Man (49) het langs haar kom sit en glo ná ’n ruk sy hand op die meisie se bobeen geplaas.

Sy het dadelik uitgehardloop en ’n vrou buite die fliek vertel wat gebeur het. Kort daarna het die man ook buitentoe gegaan. Toe die meisie hom uitwys, het hy weggehardloop.

Lede van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) het die man Maandagaand by sy huis in die buurt Capital Park in hegtenis geneem.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, sê die man word met minstens nog een voorval in die stad verbind. Hy sal weer op 22 Maart in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Ouers word gemaan om nie hul kinders sonder toesig te laat rondloop of ’n winkelsentrum as ’n “kinderoppasser” te gebruik nie omdat sekspeste op die uitkyk is vir kinders wat sonder toesig daar is.

Nog wenke vir ouers:

  • Vergesel altyd kinders na openbare toilette.
  • Wys veiligheidswagte aan kinders uit sodat hulle weet waarheen om te gaan vir hulp ingeval hulle verdwaal.
  • Dis veiliger in ’n groep. Jong mense word aangeraai saam met maats uit te gaan en by die groep te bly.
  • Kinders moet weet om nie met vreemdelinge te praat nie. Sodra iemand hulle steur, bang of ongemaklik maak, moet hulle dit aan ’n veiligheidswag of winkelassistent rapporteer.
  • Maak seker jou kind ken jou selfoonnommer uit sy kop. Vir jonger kinders is ’n gelamineerde ID-kaartjie met hul naam en jou kontakbesonderhede daarop ’n goeie idee. Plaas dit aan die binnekant van hul klere wat hulle aan ’n volwassene kan toon wanneer hulle verdwaal.