Wat vir talle Vrydag as 'n doodgewone uitstappie na die Cascades-winkelsentrum in Burlington in die Skagit County was, het spoedig in 'n nagmerrie ontaard toe daar wild en wakker skote binne die sentrum afgevuur is.

Vyf mense het in die voorval gesterf.
Die vermeende aanvaller is op geslote kring-beeldmateriaal waargeneem ten tyde van die skietvoorval.
Die verdagte, intussen as Arcan Cetin (20) van die nabygeleë Oak Harbor geïdentifiseer, het glo ongewapen die sentrum binnegeloop. Dit was kort voor 19:00. Tien minute later het hy met 'n geweer verskyn. Sy teiken: die kosmetiek-afdeling van die afelingswinkel, Macy's. Alhoewel daar tot nou toe geen bevestiging vir sy motief is nie, word daar gegis dat 'n verbrokkelde romanse dalk die sleutel tot die aanval is.
Cetin is 24 uur later aangekeer terwyl hy in in sy tuisdorp, Oak Harbor, rondgeloop het. Verskeie wenke komende van die publiek, inligting vanaf geslote kring-beeldmateriaal, asook 'n motor wat met Cetin verbind word, het die polisie in staat gestel om hom op te spoor.
Hy sal Maandag in die hof verskyn. Skagit-polisierekords toon dat Cetin 'n kriminele rekord het. Dit sluit drie klagte van huishoudelike geweld in. Die slagoffer in die aanvalle is sy stiefpa. Cetin is ook al in hegtenis geneem vir dronkbestuur. Op 29 Desember het 'n regter hom ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit. Volgens 'n Facebook-inskrywing wat op sy pa se blad verskyn, is Cetin in Turkye gebore. Sy ouers het daar getrou en die gesin het hul later in Oak Harbor gevestig. Cetin is 'n wettige permanente Amerikaanse burger. So het 'n ooggetuie die bloedige aanval ervaar.

Nog 'n werknemer van die winkelsentrum, Taleia Thurman (23) het haar ma vanuit die badkamer binne Kay Jewelers gebel. Sy en drie kollegas het daar weggekruip vir die duur van die aanval. "Dit was senutergend," het haar ma, Kim Thurman, gesê. Een van die kollegas het die gewapende man gewaar en gehardloop om die ander te waarsku. Saterdag het Taleia en haar ma teruggekeer na die sentrum om saam met haar ander kollegas hul persoonlike besittings te gaan haal. "Dit was baie emosioneel. Toe ons daar kom, het die lyke nog in die sentrum gelê," het haar ma gesê.

Volgens die Seattle Times was een van die slagoffers 'n 16-jarige tiener wat haar stryd teen kanker oorwin het. Sarai Lara het saam met haar ouer suster, Evangelina Lara, na die sentrum gegaan. Die twee het elk hul eie koers ingeslaan. Sarai het na Macy's gegaan. Sewe uur later moes haar familie die tragiese nuus aanhoor dat hul 16-jarige dogter in die skietvoorval gesterf het.
Die bloedige nalatenskap van die aanval.
Medelye stroom in vir diegene wat geliefdes en naasbestaandes tydens die aanval verloor het. Belinda Galde (64) en haar ma, Beatrice Dotson (95) is ook tydens die aanval gedood. Shayla Martin (52), 'n grimeerkunstenaar by Macy's, is volgens haar familie ook een van dié wat gesterf het.
Nog 'n slagoffer is ene Chuck Eagan. Hy en sy vrou het vir aandete en inkopies na die sentrum gegaan en was op pad na Macy's toe die skote begin klap. Hulle het probeer weghardloop maar sy vrou het in die proses gestruikel. Hy is doodgeskiet toe hy haar prbeer help het. Skagit het dié verklaring vroeër vandag uitgereik.
Intussen is daar 'n span wat oënskynlik Donald Trump-ondersteuners is, wat verskeie ongegronde teorieë rondom die skietvoorval op sosialemedia deel en ook Hillary Clinton as die oorsaak daarvan blameer vanweë haar vuurwapenbeleid.

Bronne: euronews.com, reuters.com, nydailynews.com, seattletimes.com