Lucia Thembisile Yende (30) is die laaste keer op 17 Mei in Tsakane aan die Oos-Rand gesien op pad werk toe. Maandagaand, 5 Junie, is haar lyk gevind – agter die geslote deure van haar kantoor by Eskom in Springs.

Die man is nie ’n Eskom-werknemer nie

Johannes Ramphora, polisiewoordvoerder, het gesê die man is Donderdag in Carletonville in hegtenis geneem. Hy word van moord met voorbedagte rade aangekla.

Ramphora het aangedui dat die man nie ’n Eskom-werknemer is nie.

“Ons wil nie te veel inligting bekend maak nie want ons wil nie die ondersoek belemmer nie. Daar word ondersoek buite, sowel as binne Eskom, ingestel,” het hy aan EWN gesê.

Dit wys dat wanneer ons saamstaan, as ’n familie en ’n gemeenskap, dinge gebeur

Daar is nie borg aan die man toegestaan nie.

“Op hierdie stadium kan ons nie besonderhede oor die man bekend maak tot die hofverrigtinge begin nie,” het polisiewoordvoerder, Kapt. Johannes Ramphora. 

Hy het wel gesê die moord op Thembisile kon ’n goed georkestreerde moord wees. 

“Ons ondersoek alle moontlikhede en dit kan wees dat die verdagte ’n huurmoordenaar was.” 

Mboneni Yende, Thembisile se gesinswoordvoerder, het aan Times Live gesê hulle is eers vandag oor die man se arrestasie ingelig.

“Ons is bly iets is aan’t gebeur want daar is baie sake wat op die einde nie opgelos word nie.

“Dit wys dat wanneer ons saamstaan, as ’n familie en ’n gemeenskap, dinge gebeur.”

Mboneni het ook vir Eskom geloof vir hul bydrae om seker te maak die beskuldigde word opgespoor.

Die saak is tot 23 Junie uitgestel.

Bronne: jacarandafm.com, ewn.co.za, timeslive.co.za,