’n Man van Freying in Duitsland het sy meisie wreedaardig vermoor en op die vlug geslaan. Daarna het hy ewe kalm die datum van haar moord op sy arm getatoeëer.

Ná ’n soektog deur Europa het die polisie hom nou in Spanje in hegtenis geneem.

Hierdie gru-verhaal het verlede maand in die Duitse dorpie Freyung afgespeel toe die 22-jarige Dominik Riedl sy liefdesmaat, net bekend as Lisa (20), se keel in ’n gru-aanval in hul huis afgesny het. Hy het haar bebloede lyk in vullissakke versteek en saam met hul 18 maande oue seun, Luca, landuit gevlug. Toe die Duitse polisie die liggaam ontdek, is ’n soektog na Dominik oor die hele Europa van stapel gestuur. Dit blyk dat hy baie selfversekerd is, want hy het sowat ’n week later ’n foto op Facebook geplaas waar hy doodluiters voor die Eiffeltoring in Frankryk poseer.

Nadat die polisie verskeie wenke opgevolg het, is Dominik die afgelope naweek in ’n hotel in Spanje opgespoor en gearresteer.

[caption id="attachment_146612" align="alignleft" width="202"]Die moorddatum is op Dominik se arm getatoeëer. Die moorddatum is op Dominik se arm getatoeëer.[/caption]

Maar hier raak dié gru-verhaal meer bisar. Die polisie was stomgeslaan toe hulle ’n tatoe op Dominik se arm ontdek met Lisa se geboortedatum – asook die datum waarop sy vermoor is.

Onder dit was die woorde “Gracias por todo” getatoeëer. Dit is Spaans vir “dankie vir alles” . . .

Die paartjie se kleuterseun is ongedeerd en word in ’n plek van veilige bewaring versorg.

Bronne:mirror.co.uk, thesun.co.uk