Toe Brian Mabasa ’n week gelede ná werk terugkeer na sy BMW in die parkeerterrein van die Gautreinstasie in Midrand, was dit omring deur veiligheidsbeamptes. Dit was die begin van ’n vyf dae lange beproewing nadat hulle hom vertel het ’n slang het hom in die motor tuisgemaak. “Dit was die ergste nagmerrie wat jy kan kry,” sê hy.

Die slanghanteerder André Prins is na die Gautreinstasie ontbied, maar sê hy het agtuur die Dinsdagaand moed opgegee. “Die slang het diep in die kar weggekruip,” vertel André.

Die media het hom ’n paar dae later genader om kommentaar. André het toe gesê hy is “vol vertroue” dat die slang waarskynlik reeds uitgeseil het. “Ek het gesê dis hoogs waarskynlik, maar het nooit gesê dis ’n uitgemaakte saak nie.”

Brian sê die kar is geskuif en in die son gelaat in die hoop dat die slang sou uitkruip. Nog drie slanghanteerders is ontbied, maar tevergeefs. Teen Vrydag het Brian besluit om met sy motor van die stasie af huis toe te ry. “Ek was nie eintlik bang terwyl ek gery het nie; ek was vol vertroue dat hy geensins nie tot in die motor sou kon kom nie,” sê hy.

Brian het daarna die motor na ’n slanghanteerder gebring, wat ’n halfuur vergeefs na die slang gesoek het. “Toe neem ek die motor huis toe en parkeer dit in my motorhuis.”

Brian sê hy was doodbang die slang sou sy huis of een van die bure s’n binnekom. “Op pad huis toe het ek gebid: Help my asseblief deur die volgende dag.”

Die volgende oggend het Brian die slang se kop tussen die motor se enjinkap en rooi koplig sien uitkruip. Hy het ’n slanghanteerder gebel, wat die enjinkap oopgemaak het. Maar dié kon ook nie die slang kry nie. Die motor se modderskerm is verwyder en die rinkhals is daar gekry.

Brian sê daar was ’n paar gespanne oomblikke voor die slang gevang is. “Dit was ’n groot, sterk slang. Ek het gedink: Sê nou hy kan dit nie vang nie en dit seil weg?”

Die slanghanteerder het hom net met handskoene beskerm en die giftige slang gevang. “Hy het dit in ’n stadium vasgehou en ek kon dit uit sy vuis sien glip; dit het nogal gevaarlik geraak. Maar hy het dit gelukkig gevang. Hy is ’n ekspert,” sê Brian.

“Dit was ’n groot verligting ná ek my gedurig oor die slang bekommer het.”