Gideon Stassen se ma, Annatjie (78), is laasweek Donderdag as vermis aangemeld ná familie en vriende haar nie in die hande kon kry nie. Haar liggaam is Sondagmiddag in 'n veld buite Bronkhorstspruit gevind.

[caption id="attachment_112291" align="alignnone" width="600"]Foto: Laevelder Foto: Laevelder[/caption]

Die Laevelder berig Gideon en sy meisie het vlugtig vroeër vandeesweek in die Kempton Park magistraatshof verskyn in verband met die moord.

Aanvanklik het Gideon (43) die polisie vertel hy het gesien hoe sy ma in 'n onbekende motor klim, maar in 'n bisarre wending het hy nou erken hy het haar doodgemaak.

Kempton Park polisiewoordvoerder Kaptein Jethro Mtshali het gesê Gideon was na bewering in 'n rusie met sy ma betrokke kort voor sy weggeraak het. Sy is gestamp en het op haar kop geval.

Gideon het dié voorval glo erken en gesê hy en sy meisie het sy ma se lyk toe van haar huis in Kempton Park na die veld buite Bronkhorstspruit geneem.

Ná 'n onsuksesvolle soektog deur die polisie is haar lyk Sondag deur 'n groep vroue gevind wat op pad terug was van 'n kerkdiens.

Gideon en sy 31-jarige meisie is nog nie gevra om te pleit nie. Die saak is eers uitgestel om die paartjie kans te gee om regsverteenwoordiging in te win.

Bronne: Die Laevelder; Kempton Express