Lelani Vermaak word in die Mediclinic Louis Leipoldt in Bellville vir brandwonde aan haar hande en voete behandel en Wynand in die brandeenheid van die Tygerberg-hospitaal. Hy het brandwonde aan 60 persent van sy lyf opgedoen. 

“Ons is in die proses om Lelani nou in die ambulans te laai om Wynand te besoek,” het Lelani se man, Morné, Donderdagmiddag gesê.

“Lelani ervaar steeds kwaai pyn en haar gemoedstoestand is maar nie lekker nie, maar in haar hart is sy opgewonde om Wynand te sien,” het hy gesê.

Morné sê hy vertrou in die Here, wat reeds vir hulle soveel deure oopgemaak en wonderwerke gedoen het. 

“Ek raak nie grond nie; ek hardloop tussen twee hospitale rond,” het Morné Woensdagmiddag gesê.

“Wynand se lyf is nog verbind, maar die verbande is reeds van sy gesig afgehaal. Daar sal nie letsels aan sy gesig wees nie,” het Morné gesê. Binne die volgende vyf dae sal die verbande ook van Wynand se lyf afgehaal word, onder meer vir verligting.

Lelani Vermaak met haar gesin. Foto: Verskaf

Veloorplantings sal aan sy arms, rug en bors gedoen moet word.

Morné het gesê dit gaan reeds beter met Lelani as Vrydag. “Maandag het hulle die blase oopgemaak en afgeknip.”

Sy vrou ervaar nog hewige pyn.

“Daar is ’n probleem met haar regtervoet. Daar is nie vel bo of onder nie. Veloorplantings sal gedoen moet word,” het hy gesê.

Morné sê sy vrou sal in dié stadium minstens nog twee weke in die hospitaal deurbring, terwyl sy seun tot ses weke hospitaalbehandeling sal kry.”

Hy het die ondersteuning uit die gemeenskap as “ongelooflik” bestempel.

Oor hoe dit emosioneel met hom gaan, het Morné gesê hy bly liewer besig “as wat ’n mens dink aan dié goed.”

Hy het reeds sy en Lelani se dogtertjie, McKenzie (5), vir berading geneem.