Serge Vorobyov (29) het verlede Vrydag R10 000 se note van die vierde verdieping in ’n winkelsentrum in Minnesota gestrooi in die hoop om Kersvreugde met mense te deel.

Die hele petalje het hom afgespeel terwyl ’n koor die lied Let it Snow gesing het. Hy het alles afgeneem en die video op YouTube gelaai.

Serge het in ’n ander video gesê dat hy ’n moeilike jaar agter die rug het: Hy is geskei en het sy motorwerkwinkel verloor. Volgens hom was dit sy laaste geld, maar dat hy dit geniet het om vreugde vir ander te bring.

Die polisie het hom gekritiseer en gesê dit was deel van ’n poging om met sy vrou versoen te raak. Hulle het hom in hegtenis geneem vir wanordelike gedrag, maar vrygelaat toe dit blyk niemand is beseer nie.

Bron: Sapa