Die voorval het die naweek in ’n kroeg gebeur waar mense uitgedaag is om soveel moontlik sopies whisky, rum en ander soorte drank te drink.

Die 57-jarige slagoffer het die plaaslike rekord verbeter, maar ’n paar uur later het sy oorwinning in ’n tragedie ontaard toe hy in ’n koma verval.

Hy is hospitaal toe gejaag, maar is die volgende dag oorlede, berig die radiostasies France Info en France Bleu.

Die polisie stel ondersoek in na die dood, onder meer die rol van die kroegbestuurder, wat weens strafbare manslag aangekla kan word omdat hy sulke gevaarlike hoeveelhede alkohol bedien het, sê die staatsaanklaer.

Baie Europeërs is al op soortgelyke manier dood.

’n Speletjie op sosiale media genaamd NekNominate, wat mense uitgedaag het om ’n drankie in een sluk te drink, is vroeër vanjaar verbied ná ’n reeks sterftes weens beserings of alkoholvergiftiging in Brittanje en Ierland.

Bron: Sapa-dpa /kd