’n Man van Amerika is doodgeskiet ná hy ’n ou koeëlvaste baadjie wou toets.

Die oorledene het glo hardop gewonder of die ou baadjie, wat hy vermoedelik iewers gevind het, nog in ’n werkende toestand is. Kort voor lank het sy neef, Alexandro Garibaldi (24), na wat berig word ’n vuurwapen uitgepluk en gesê: “Kom ons kyk.”

Die polisie het ’n paar minute ná die skietvoorval op die toneel opgedaag waar hulle Joaquin buite met ’n skietwond in die bors gekry het.

Alexandro het aanvanklik vir die polisie gesê dat hy sy neef so gewond aangetref het nadat hy ’n skoot gehoor het, maar ’n ooggetuie het sy storie betwis en vertel die twee wou die koeëlvaste baadjie toets.

Daar is met Joaquin hospitaal toe gejaag waar hy aan sy beserings gesterf het.

Alexandro is intussen van strafbare manslag aangekla.

Bronne: wfla.com, metro.co.uk, wesh.com