In ’n bisarre voorval wat sterk aan die zombie-kultuur herinner, het ’n passasier op Vlug El458 van Aer Lingus amok aan boord begin maak en van sy medepassasiers begin byt.

Volgens getuies het die man vreeslik gewelddadig geraak en twee passasiers aangeval en gebyt.

Die vliegtuig se bemanning kon gelukkig daarin slaag om die man onder beheer te bring. Hulle het hom in een van die sitplekke vasgegespe.

Hierna het hy egter skielik sieklik begin voel en sy bewussyn verloor. ’n Dokter wat ook op dieselfde vlug was, het tevergeefs probeer om die man se lewe te red.

Die passasier is dood verklaar waarna die vliegtuig ’n noodlanding om mediese redes in Cork moes uitvoer.

Een van die byt-slagoffers is na ’n plaaslike hospitaal geneem vir behandeling. Dit is nog nie duidelik presies hoeveel mense deur die oorlede passasier gewond is nie.

Ierse lugmagowerhede ondersoek tans die voorval. Daar was 168 passasiers en ses bemanningslede op die vlug. Niemand anders is beseer nie.

Die oorledene was glo nie ’n Ierse burger nie en was na bewering ’n student in Dublin.

Bronne: Yahoo News; Mirror.co.uk; The Guardian