Die 32-jarige man, wie se identiteit nie bekend is nie, het gesterf enkele oomblikke nadat hy aan die liefde van sy lewe verloof geraak het.

Die hartseer voorval het gebeur op die 3 km lange Irabu-brug, die langste brug in Japan waarop nie tolgeld gehef word nie.

Die paartjie het op die brug gery toe hy sy meisie – wat bestuur het – gevra het om naby die middel van die ikoniese baken af te trek. Die twee het uit die voertuig geklim om die asemrowende uitsig te bekyk.

Die man het toe in ’n romantiese gebaar gekniel om sy liefling die jawoord te vra, en sy het ja gesê. Die verheugde verloofde het op die brugreling gespring om die gelukkigste oomblik van sy lewe te vier.

Maar die vreugdevolle oomblik het ’n hartseer wending geneem toe die pas verloofde man sy balans verloor het. Hy het meer as 30 m ver tot in die see onder die brug geval.

Sy paniekbevange verloofde het die polisie gebel en ’n soek-en-reddingsoperasie is geloods om hom te vind.

Reddingswerkers het hom ná ’n onvermoeide soektog van sewe uur gekry. Daar is met hom hospitaal toe gejaag, waar hy dood verklaar is.

“Ons het intussen uitgevind hy het gedrink voor dit gebeur het,” het ’n polisiewoordvoerder aan Japan Today gesê.

Bronne: Metro, Daily Mail, Japan Today