In die tweede noodlottige ongeluk waarby ’n olifant betrokke is in minder as ’n maand in Zimbabwe, is John Banana dood. Hy en Benard Munapo, wat die motor bestuur het, was in die voertuig vasgekeer nadat Munapo in Parkweg naby die oorddorp tussen ’n olifanttrop ingery het. Hy het ’n olifant getref en die dier het op die motor geval.

Banana het later aan sy beserings beswyk. Die twee was op pad terug van ’n vaart op die Zambezirivier, berig die staatsbeheerde koerant Chronicle.

Motoriste help hulle

Jairos Chiwona, ’n senior polisiebeampte, het aan die koerant gesê Munapo is ’n werknemer by ’n lodge op die dorp. 

Die voorval het Donderdagaand plaasgevind. Motoriste het die mans te hulp gesnel en na die Victoria Falls-hospitaal gehaas, maar Banana is Vrydagoggend dood.

Stropers het sout vol sianied in emmers langs olifantpaaie begrawe

Dit is die tweede voorval binne ’n maand waarin ’n olifant ’n man vergruis. In Mei is die Suid-Afrikaanse jagter Theunis Botha doodgeval deur ’n olifant wat op ’n wildplaas naby die Hwange Nasionale Park geskiet is.

Olifante vergiftig

Intussen het stropers minstens 10 olifante aan die grens van die Hwange Nasionale Park met sianied vergiftig, het ’n bewaringsgroep Maandag berig. 

Die Bhejane Trust sê stropers het sout vol sianied in emmers langs olifantpaaie begrawe. ’n Onbevestigde getal aasvoëls is ook dood. Die staatsmedia het tot dusver net twee olifantvrektes bevestig.

Die trust sê in ’n plasing op Facebook: “Parke (Zimbabwe se owerheid vir natuurlewebestuur) het vinnig op alle voorvalle gereageer en sianied-emmers en ivoor in twee gevalle teruggevind. Hulle volg gerugte oor verdagtes op.”

‘Groot toename in stroping’

“Met die huidige ekonomiese situasie in Zimbabwe kan ons vanjaar ’n groot toename in stroping verwag,” voeg hulle by.

Daar was ’n tyd lank geen berigte van vrektes weens sianied nie. Die laaste beduidende gevalle is in September 2016 aangemeld. Dit was toe agt olifante in twee afsonderlike voorvalle weens vergifting dood is. Vir stropers het sianied die unieke voordeel dat dit stil doodmaak, wat beteken die misdadigers kan dikwels ongesiens wegkom. 

Maklik om te bekom

Die chemikalie word in Zimbabwe se mynbedryf gebruik en is taamlik maklik om in die hande te kry. Die ergste olifantvrekte weens sianied was in 2013 in die Hwange Nasionale Park, toe sowat 200 van die diere vergiftig is (daar is bewerings dat die syfer tot so hoog as 300 was). Minstens 60 olifante is in 2015 in Hwange as vergiftig aangemeld.