’n Onderhoudswerker by die V&A Waterfront in Kaapstad is Sondagmiddag dood toe die bakkie wat hy bestuur het oor die oostelike pier in Tafelberg-hawe gery het, het Beeld Maandag berig.

’n Passasier het daarin geslaag om uit die voertuig te spring. ’n Helikopterloods wat naby die ongelukstoneel was, het in die water geduik en ’n venster stukkend geslaan om die bestuurder te bevry. Nadat die bestuurder aan wal gebring is, het paramedici hom dood verklaar.

Pat van Eyssen, die Tafelbaaise stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, het gesê hawe-owerhede het die Tafelbaaise vrywillige seereddingspan van die voorval ingelig en ’n reddingstuig het na die toneel gejaag.

Die passasier is nie beseer nie, maar is vir skok behandel.

Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie, maar volgens Pat sal die polisie die saak ondersoek.

– Sapa

sapalogo