’n Nepalese man het sy pa se oorskot in Thailand uitgeken, 10 jaar nadat hy in die Indiese Oseaan se tsoenami omgekom het, het beamptes Vrydag gesê.

Polisiebeamptes in Thailand se Phang Nga-provinsie het bevestig dat die man soontoe gereis het en sy pa se lyk opgegrawe het.

Die man was net nege jaar oud toe sy pa tydens die tragedie, wat meer as 5 000 lewens in Thailand geëis het, verdwyn.

Die man (nou 19) het met die plaaslik owerheid in aanraking gekom en het ’n DNS-monster verskaf wat met sy pa s’n verbind is.

“Daar is steeds 382 ongeïdentifiseerde lyke in die begraafplaas,” sê Tanapol Songput, die hoof van die span van die Mirror Foundation, wat slagoffers se lyke identifiseer en aan naasbestaandes terugbesorg.

“In die afgelope 10 jaar is 48 lyke opgegrawe en aan families terugbesorg.”

Op 26 Desember sal dit 10 jaar wees sedert die tsoenami sowat 230 000 lewens in lande om die Indiese Oseaan geëis het.