[caption id="attachment_116843" align="alignnone" width="600"]Man deel sy ervarings met Huisgenoot in die hoop om ander dieselfde lot te spaar. FOTO: Pexels ’n Man deel sy ervarings met Huisgenoot in die hoop om ander mans dieselfde lot te spaar. FOTO: Pexels[/caption]

Jacob* het sy vrou van amper 10 jaar gelos vir iemand wat hy aanlyn ontmoet het. Maar die gras was toe nie groener aan die ander kant nie. Hy deel sy verhaal in ’n ope brief met Huisgenoot.

“Ek was nege jaar gelede jy.

Ek was getroud, was al 15 jaar saam met my vrou. Toe los ek haar twee maande voor ons tiende huweliksherdenking.

Ons was die ouers van twee pragtige kinders, wat nou in hul laat tienerjare is, maar net sewe en nege jaar oud was toe ek my tassies pak.

Ek het gereis vir werk en minstens drie nagte per week in ’n ander hotel oorgebly. Dis hoe ek Eve* ontmoet het.

Ons het mekaar mettertyd leer ken. Ons het vriende op Facebook geraak. Ons het dag en nag vir mekaar boodskappe gestuur. Sy was ook getroud en het ook twee kinders. Ons het soveel gemeen gehad dat ons gou verlief geraak het. Ek het gevoel sy “verstaan” my.

Dit het als tydens ’n baie moeilike tydperk in my huwelik gebeur. Ek was nie gelukkig nie, ek het nie daarna uitgesien om huis toe te gaan nie. My vrou het gewig aangesit, ons het skaars met mekaar gepraat, sy het altyd so sielsongelukkig gelyk.

Ek het nie besef ek was die rede hoekom sy so af en depressief gelyk het nie. Ek het nie vir haar enige aandag gegee nie. Ek het haar as vanselfsprekend aanvaar.

Ek was te besig om te wens my lewe was opwindender, besig om aanlyn romanse te vind, en het al my vrye tyd gebruik om te dink hoe ek kon wegkom.

Ek het geglo sy het my nie lief nie. Ek het myself daarvan oortuig sy het nooit omgegee vir my behoeftes, begeertes en wense nie, dat ek net vir haar ’n salaristjek was.

Sy het in haar vrye tyd na ons omgesien, ons aandetes berei, wasgoed gewas, middagetes gemaak, huiswerk gedoen, projekte, die kinders na hul sportaktiwiteite vervoer, omgesien na die troeteldiere waarvoor hulle so lief was, hul vriende, en het boonop haar eie werk ook gehad.

Al wat ek gehoor het elke keer dat sy met my praat, was ’n gekla. Maar eintlik het sy gesmeek vir my aandag: Vir ’n wegbreeknaweek, ’n aandjie uit, ’n fliek – alles wat ek agter haar rug saam met Eve gedoen het en ook nadat ek my gesin verlaat het.

Lees ook: Verkulde vrou se snydende brief aan man se minnares

Ons het gestry en baklei omdat elkeen gevoel het die ander een hoor hulle nie. En tog was dit al wat ons eintlik moes doen – om na mekaar te luister!

Ek het met Eve na ’n ander provinsie getrek. My eksvrou het toesig oor ons kinders gekry. Ek het hulle elke tweede naweek gesien.

’n Nuwe begin

Die lewe was lekker!

Ek en Eve het ’n ongelooflike sekslewe gehad. Daar was ’n band wat ek geglo het ek nooit met my eks gehad het nie. Ons het ’n groot vriendekring gehad. My familie was dol oor haar. My kinders het van haar gehou.

Maar my eks kon haarself nooit so ver bring om Eve te ontmoet nie; sy het verraai gevoel. En ek het haar nog meer gehaat! Sy was kinderagtig. Gemeen. Sy’t nooit omgegee vir my of my geluk nie. Ek het nie omgegee vir my eks se gevoelens as ek foto’s van ons op Facebook gedeel het nie; ek het Eve gehad en ’n nuwe lewe en dit was fantasties!

Ons was ses of sewe jaar saam maar het nooit getrou nie; ons het geglo trou is nie vir ons nie.

Ek het geglo ná 15 jaar saam met my eks ons het alles gedoen wat ons kon en dat ons tyd saam verby was, dat daar niks was wat ons kon doen om die verhouding of huwelik te red nie. Eve was my toekoms, Eve was die mens saam met wie ek nog altyd moes wees.

Ongeag hoe goed ons aan die begin oor die weg gekom het; ongeag hoe goed ek gedink het sy my “verstaan”, hoe goed die seks was, het die “wittebrood” tot ’n einde gekom.

Ek en Eve het na mekaar begin hap. Daar was hier en daar ’n gestry. Ek het een nag omstreeks tweeuur ’n oomblik van openbaring beleef.

Ek het besef ek mis die vrou wat my eerste tuiste en gesin geskep het. Ek het besef as ek my eksvrou behandel het soos ek Eve behandel het, die ure wat ek gebruik het om Eve die hof te maak eerder op my eks bestee het, sou sy geblom het.

As ek ophou negatief was oor haar en ons verhouding teenoor my familie en vriende sou hulle nie negatief teenoor haar geraak het nie, en sou sy nie in haarself gekeer geraak en weggeskram het nie.

Sy het iemand geword wat ek myself oortuig het ek nie meer ken of nie meer oor die weg mee kon kom nie, want ek het haar nooit die tyd en liefde en aandag gegee waarna sy gesmag en wat sy verdien het nie.

Lees ook: Die aaklige manier waarop ’n man ontdek sy meisie verneuk hom

Ek het gedink ek het, maar toe ek werklik daaroor dink, het ek besef ek het dit nooit gedoen nie. Ek het haar nooit ingelaat nie. Ek het my huwelik al jare tevore beëindig met die eenvoudige besluit dat sy nie meer is wie en wat ek wil hê nie. En ek het my familie en vriende ook daarvan oortuig – dat sy nie goed vir my was nie!

Berou

Maar ek was verkeerd. Ek het die beste jare van my kinders se lewens gemis. Gesinwees misgeloop. Ek het hul ma laat sukkel om hulle alleen groot te maak. Ja, ek het hulle finansieel gehelp, maar ’n man wat nie by sy gesin woon nie, het nie ’n benul wat die kostes vir die enkelma is nie. Terwyl ek en Eve naweke aan biefstuk gesmul het, het my eksvrou eier en roosterbrood geëet.

En weet jy dat sy nooit daaroor gekla het nie? Sy het nooit ’n groter bedrag by my geëis nie. Sy het my nooit daarvan weerhou om die kinders te sien nie. Nooit nee gesê as ek op die nippertjie van plan verander nie. Sy het haar naweke opgeoffer sodat my ma tyd saam met haar kleinkinders kon deurbring. Sy het my laat aangaan met my lewe saam met Eve, al moes dit haar baie seergemaak het.

Nes enige verhouding het dit goed begin – wonderlik, om die waarheid te sê – maar toe dit sleg raak, het ek besluit om te waai. Ek het geloop en geskei van ’n vrou wat – en ek besef dit nou – enigiets vir my sou doen. Maar ek het vir myself gesê sy wou nie of kon nie.

My eksvrou was agt jaar lank ’n enkelloper. Sy het op afsprake gegaan, maar nooit in ’n verhouding betrokke geraak het. Die feit dat sy enkellopend was, was ’n soort bevestiging vir my dat niemand haar wou hê nie en dat ander mans alles wat ek besluit het sy nie het nie, ook kon sien. Maar eintlik het sy ’n enkelloper gebly om op ons kinders te fokus.

Te laat

En toe kom die dag toe sy Craig* ontmoet. Ek het nooit gedink dit sou my enigsins pla as sy ’n kêrel sou ontmoet nie. Ek het gedink dit sou wonderlik wees! Maar ek het die pot lelik misgesit. Ek het seergemaak gevoel. Jaloers. Ek was selfs kwaad en het verraai gevoel.

Sy en my kinders het by Craig ingetrek. Sy het in ’n nuwe huis nesgeskop. ’n Nuwe gesin, met my kinders . . . dit was ’n bitter pil om te sluk.

Ek het eindelik verstaan hoe sy al daardie jare gevoel het. En dit was aaklig.

Ek het op Facebook en deur gesprekke met ons gemeenskaplike vriende gehoor hoe Craig haar en die kinders bederf. Hulle het naweke op die strand deurgebring – hy het branderplank saam met my seun gery. Hulle het op staptogte gegaan. Hulle is Mauritius toe waar hy op ’n kajak die jawoord gevra en sy ja gesê het. Hulle het getrou.

My dogter was ’n strooimeisie en my seun ’n strooijonker. Craig se ouers en broer het my eksvrou en kinders in hul familie verwelkom. Hulle het vir almal vertel hoe geseën hulle is om hulle as familielede te hê.

Sy het gestraal van geluk. Sy het liefde uitgestraal en niks daarvan was op my gemik nie. My hart het gevoel asof dit uitgeruk is.

Lees ook: Ma vertel roerend: ‘My kind sal eendag normaal loop’

Dit moes ek gewees het.

Moenie soos ek wees nie. ’n Mens dink jy sal nooit gelukkig wees as jy in ’n groef is nie. Maar dis juis wanneer jy jou donkerste oomblik beleef dat jy moet vasbyt en op jou hardste moet probeer.

Ek woon vandag alleen en sien steeds net af en toe my kinders. Hulle is groot en is kwaad vir my omdat ek hulle en hul ma verlaat het. Wie kan hulle kwalik neem dat hulle so voel?

Van al die dinge wat Eve was, was sy nooit die ma van my kinders, my oorspronklike ware liefde, nie.”

*Skuilname

– Saamgestel deur Kirstin Buick

Hierdie storie is deur een van ons lesers ingestuur. Dis effens geredigeer en bygewerk.

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.