Daar is ’n bekende gedeelte in Mark Twain se geliefde boek Die Avonture van Tom Sawyer waar die jong man se familie en vriende glo hy is dood. ’n Groot begrafnis word vir Tom gereël al is hy eintlik perdfris en gesond. As snaaksigheid besluit Tom toe om sy eie begrafnis by te woon, net om deur die kerk se dak karplaks in die middel van sy eie begrafnis te lande te kom.

’n Mens sou dink om jou eie begrafnis te gatecrash is iets wat net in storieboeke sou gebeur, maar toe nou nie. ’n Vrou van Melbourne in Australië het nie net ongenooid by haar eie begrafnis opgedaag nie, sy het ook haar lewensmaat verras wat R80,000 opgedok het om haar te laat vermoor.

Noela Rukundo het haar maat van die afgelope 10 jaar, Balenga Kalala, by haar begrafnis gekonfronteer. Balenga was glo so geskok, hy het herhaaldelik aan Noela geraak en gevra: “sien ek ’n spook?”

“Verrassing! Ek lewe nog!” het sy hom glo toegesnou.

Lees ook: Verbaasde huiseienaar vind as van vreemdeling in eie tuin

Daar was wel rede vir Balenga om verbaas te wees. ’n Paar dae vantevore het dié ma van agt saam met Balenga na Bujumbura, die hoofstad van Burundi gereis. Daar is sy deur gewanpende mans buite hul hotel ontvoer.

Ironies genoeg was Balenga en Noela in Burundi om die begrafnis van ’n familielid by te woon.

Noela vertel nadat die mans haar gegryp het, het sy gehoor hoe een vra: “Vrou, wat het jy aangevang dat jou man ons betaal om jou dood te maak?”

“Ek vra toe: ‘Waarvan praat jy?’”

Die leier van die groep vertel haar toe haar man, oftewel Balenga, het hulle gehuur om haar te vermoor. Hulle het selfs ’n opname gespeel van ’n telefoonoproep van hom waarin hy hulle vra om die daad uit te voer.

Gelukkig vir Noela het die sluipmoordenaars gekies om haar nie dood te maak nie. Dit was glo omrede hulle nie vroue vermoor nie. Sy is ná twee dae vrygelaat en aangesê om Burundi binne 80 uur te verlaat.

Hulle het ook vir haar ’n selfoon gegee en ander bewysstukke van haar maat se onderduimse plan.

Lees ook: Huurmoordenaars: “Ons maak nie vroue dood nie”

Noela het met behulp van die Belgiese en Keniaanse ambassade en haar pastoor in Melbourne daarin geslaag om by die huis te kom. Daar hoor sy toe Balenga het aan vriende en familie vertel sy is dood in ’n ongeluk.

Aanvanklik het Balenga ontken dat hy Noela wou laat vermoor, maar het later met die sak patats vorendag gekom. Hy is intussen tot nege jaar tronkstraf gevonnis.

“Ek sal opstaan soos ’n sterk vrou,” het Noela aan die BBC gesê. “My verlede is agter my, ek slaan nou ’n nuwe blaadjie oor.”

Bronne: The Washington Post; BBC; News.com.au

- Saamgestel deur: Petrus Malherbe