’n Paramedikus van KwaZulu-Natal het verlede Donderdagaand kort na 22:00 in ’n polisiekantien sewe skote op sy meisie afgevuur, berig Kempton Express.

Sy is per ambulans na die hospitaal gehaas. Hy het die ambulans in sy eie motor agternagesit, vermoedelik om klaar te maak waarmee hy begin het.

’n Ander vrou is deur hom by die hospitaal gewond voordat hy na Nquthu gevlug het. Die polisie het hom agtervolg, maar hy het ook op hulle gevuur voordat hy na bewering selfdood probeer pleeg het.

Hy is volgens berigte Vrydagaand in hegtenis geneem.

Sy meisie het in die hospitaal aan haar wonde beswyk.