'n Man het Dinsdag by die Dartmouth-Hitchock mediese sentrum, die grootste hospitaal in New Hampshire, sy ma glo doodgeskiet.

Pamela Ferriere (70) was in die hospitaal se intensiewesorgeenheid op die vierde verdieping toe haar seun, Travis Frink (48), sy dodelike besoek aan haar gebring het.

Nege minute nadat hy by die hospitaal ingeteken het, het hy na bewering sy ma doodgeskiet.

“Die rede vir Frink se besoek aan die hospitaal was om sy ma dood te maak,” het Gordon MacDonald, prokureur-generaal, Dinsdagaand tydens ’n mediakonferensie gesê.

“Ek kan bevestig dat meer as een skoot afgetrek is,” het hy gesê.

Niemand anders is in die voorval beseer nie.

Frink, van Rhode Island, is deur die polisie in hegtenis geneem toe hy probeer het om die hospitaalterrein te verlaat.

Hy sal Woensdag in die hof verskyn op aanklag van moord.

Frink se vrou en hul driejarige kind het in 2013 in ’n luierende motor gesterf. Geen vuilspel is destyds vermoed nie.

Bronne: wmur.com, nydailynews.com, nypost.com